Nuus 08:00
BULLETIN 16 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement dring aan op verenigde diplomasie te midde van die Amerikaanse tariefgeskil
# Putin sê die belangrikste oorsake van die oorlog in Oekraïne moet uitgeskakel word voor ‘n skietstilstand
# En die 20ste jaarlikse Nasionale Parke-week begin met ‘n Krugerwildtuin-viering
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Internasionale Betrekkinge het alle staatsdepartemente versoek om president Cyril Ramaphosa diplomatieke aangeleenthede met die VSA te laat lei. Die voorsitter Supra Mahumapelo het beklemtoon dat slegs gemagtigde amptenare ingewikkelde buitelandse betrekkinge moet bestuur, veral te midde van die 30-persent-tariefverhoging. Hy het ‘n beroep gedoen op spesiale gesant Mcebisi Jonas om handelsgesprekke te lei, samehorigheid te verseker, nasionale belange te beskerm en Suid-Afrika se rol as ‘n poort na Afrika suid van die Sahara te handhaaf.
# Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie ondersoek die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, se vorige plasings op sosiale media. Dit volg op verskeie klagtes van politieke partye en individue rakende beweerde rassistiese plasings en xenofobiese uitsprake deur die minister. Die plasings dateer tussen 2011 en 2017. Wisani Baloyi van die kommissie sê, gegewe sy posisie, word van McKenzie verwag om deur sy gedrag te voldoen aan die etiese standaarde wat ‘n minister en ‘n parlementslid betaam:
# Die Gautengse Onderwysdepartement sê hulle is besig om ‘n onafhanklike ondersoekende regsfirma aan te stel om die dood van ‘n graad-3 leerder van die Alberview Primary School in Ekurhuleni te ondersoek. Daar word beweer dat die leerder op 1 Augustus in die hospitaal oorlede is nadat hy ‘n besering op die skoolterrein opgedoen het. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê die LUR, Matome Chiloane glo dat hierdie ondersoek die feite sal blootlê en aanspreeklikheid verseker:
# Die Russiese president Vladimir Putin sê die vergadering met sy Amerikaanse eweknie Donald Trump was deeglik en konstruktief. Die twee leiers het gister in Alaska vergader, maar geen skietstilstandooreenkoms is bereik nie. Putin sê die belangrikste oorsake van die oorlog moet uitgeskakel word sodat die konflik in Oekraïne kan eindig. Hy het ook die Oekraïnse leier, Volodymyr Zelensky, en Europese leiers gewaarsku om nie nou in te meng met die vordering nie. Putin sê Rusland stel ernstig daarin belang om die oorlog in Oekraïne te beëindig.
# Gholf: Die Suid-Afrikaner Herman Loubser lei die Vodacom Origins of Golf met een hou op vyf onder baansyfer na die eerste ronde by die Parys-gholflandgoed in die Vrystaat. Robson Chinhoi van Zimbabwe is kort op sy hakke en is een hou agter op vier onder 68. Daar is tans ‘n groep van tien spelers in die gesamentlike derde posisie op drie onder 69. Die groep sluit in die Suid-Afrikaners CJ du Plessis, Luke Brown, George Coetzee en Engeland se Joe Long.
# En ten slotte: Suid-Afrikaanse Nasionale Parke bied weer gratis toegang tot die meeste van sy 21 parke tydens Nasionale Parkeweek van 22 tot 26 September, met sommige wat tot 28 September sal oop wees. Die week begin met ‘n viering by die Mopani-ruskamp in die Krugerwildtuin in Limpopo op 21 September. SANParke se woordvoerder, JP Louw, sê die inisiatief wil trots kweek vir Suid-Afrika se natuurlike en kulturele erfenis en bewustheid oor bewaring verhoog:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….