Nuus 08:00
BULLETIN 17 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisie verwelkom die tussentydse hofbevel oor mynskagte in die Stilfontein-gebied wat in onbruik is
# Die ATM is bly oor die sluiting van spazawinkels wat by die dood van kinders betrek word
# En rugby: Suid-Afrika uitoorlê Engeland in opwindende kragmeting op Twickenham
# Die polisie verwelkom gister se tussentydse hofbevel van die Hooggeregshof in Gauteng vir die beskerming van onwettige mynwerkers wat nog ondergronds is by die Stilfonteinmyn in Noordwes, wat in onbruik is. Die opdrag gee hulle kans om vrywillig uit te kom en verbied die versperring van die skagte. Die woordvoerder van die polisie, Athlenda Mathe, sê hulle statiese operasies duur voort by alle agtergelate mynskagte in die gebied. ‘n Beroep word weer gedoen op alle onwettige mynwerkers om na die oppervlak te kom. Sy sê die bevel keer nie dat die polisie hulle grondwetlike taak uitvoer nie:
# Die ATM verwelkom die regering se besluit om alle ondernemings te sluit wat betrek word by die dood van kinders as gevolg van vermeende voedseloordraagbare siektes. Die woordvoerder van die ATM, Zama Ntshona, sê dit is ‘n noodsaaklike stap om ‘n veilige voedselomgewing te skep vir alle Suid-Afrikaners. Hy sê die krisis is nie bloot ‘n openbare gesondheidskwessie nie, maar ‘n simptoom van ‘n sistemiese mislukking om die welstand van landsburgers te prioritiseer:
# Die GOOD-party in die Wes-Kaap vra ‘n openbare debat oor die jongste algemene waardasierol vir die komende boekjare van 1 Julie 2025 tot 30 Junie 2029 in die munisipaliteit van Stellenbosch. Marius van Stade van die GOOD-party sê hulle maak voorspraak vir ‘n hersiening van die skerp stygings in die waardasie van residensiële eiendomme, wat hulle glo ‘n oordrewe las op huiseienaars en inwoners sal plaas:
# Rugby: Die Springbokke het Engeland gisteraand hulle vyfde agtereenvolgende nederlaag toegedien toe hulle die gashere met 29-20 op Twickenham oorrompel het. Die Bokke het vier drieë gedruk – een elk deur die skrumskakel Grant Williams en die vleuel Cheslin Kolbe, wat twee keer oorgeduik het, en een deur die flank Pieter-Steph du Toit. Suid-Afrika was rustyd 19-17 voor. Die Engelse het in die tweede helfte ‘n rukkie die voortou geneem met 20-19, maar die Bokke het hulle kampioenmentaliteit getoon en die wedstryd vasgeknoop. Kolbe is aangewys as die speler van die wedstryd.
# En, die Argentynse polisie het ‘n man in Buenos Aires in hegtenis geneem wat in besit was van ‘n groot aantal ou Nazi-wapens versier met simbole uit die Derde Ryk van Adolf Hitler se berugte regime. ‘n Verslag van Argentinië se federale polisie lui hulle het 60 vuurwapens in die man se huis in beslag geneem, waaronder 43 gewere met die Nazi-arend-motief, 15 pistole en ‘n masjiengeweer. Nazi-vlae, militêre uniforms, pette, helms en ‘n borsbeeld van Hitler is ook deur die owerhede gekonfiskeer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….