Nuus 08:00
BULLETIN 16 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die regering gaan onmiddellik spazawinkels sluit wat betrek word by kindersterftes
# Disabled People South Africa ondersteun Mej SA Mia le Roux se onttrekking aan Mej Heelal
# En krieket, Indië moker die Proteas na hul grootste T20-loesing ooit
# President Cyril Ramaphosa sê spazawinkels wat betrek word by die dood van kinders sal onmiddellik gesluit word. Die president het reageer op die herhaalde gevalle van voedseloordraagbare siektes wat die lewens van kinders geëis het. Hy sê alle spazawinkels en ander geriewe wat kos hanteer moet binne 21 dae na 15 November geregistreer word in die munisipaliteite waar hulle werk:
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, doen ‘n beroep op verskerpte samewerking tussen wetstoepassers, gemeenskappe en belanghebbendes, om te verseker alle onwettige mynwerkers in Stilfontein, Noordwes kom veilig uit die myn. Meer as een-duisend onwettige mynwerkers is reeds aangekeer. Die ministerie van Polisie en die ministerie van Verdediging, het gister ‘n oorsigbesoek gedoen om Operasie Vala Umgodi te ondersteun. Mchunu het tydens ‘n nuuskonferensie gesê die regering is daartoe verbind om te verseker wet en orde seëvier gegewe die voortgesette krisis:
# Cosatu het sy voorlegging oor die Minibegroting se Wysigingswetsontwerp oor die Verdeling van Inkomste aan die Nasionale Vergadering se Staande Komitee voorgelê. Matthew Parks van Cosatu sê hoewel hulle fondse vir rampbestuur en infrastruktuur by skole verwelkom, is hulle besorg oor departemente wat onderpresteer en munisipaliteite wat misluk. Hy vra vir dringende hervormings om plaaslike regering te bestendig en werkloosheid, armoede en korrupsie aan te pak:
# Disabled People South Africa het teleurstelling uitgespreek, maar tog begrip getoon ná Mej Suid-Afrika 2024, Mia le Roux, se onttrekking aan die Mej Heelal-kompetisie weens gesondheidsredes. Le Roux, die eerste dowe deelnemer, het voorberei vir die finaal in Mexiko vandag. Die nasionale voorsitter, Patrick Mahlakoane, het haar in ‘n verklaring geprys omdat sy haar vir die regte van gestremdes beywer en haar persoonlike welstand prioritiseer, en wens haar ‘n spoedige herstel toe. Hy sê die organisasie beloof om deurlopend voorspraak te maak vir inklusiwiteit en die bemagtiging van mense met gestremdhede.
# En krieket: ‘n Meesterklas gisteraand deur Indië se top drie kolwers op die Wanderers in Johannesburg het gesorg dat die besoekers in hulle beurt ‘n totaal van 283 vir een aangeteken het, voor hulle Suid-Afrika vir ‘n skamele 148 lopies uitgeboul het. Die 135-lopie sege in die vierde en laaste T20 was Suid-Afrika se grootste pak slae ooit in internasionale T20-wedstryde. Die besoekers het die reeks 3-1 gewen na oorwinnings van onderskeidelik 61 lopies en elf lopies in die eerste en derde wedstryde in Durban en Centurion, terwyl die gashere in Gqeberha met drie paaltjies gewen het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….