Nuus 08:00
BULLETIN 14 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Ntshavheni sê minister Malatsi het geen magtiging gehad om die SABC-wetsontwerp terug te trek nie
# Die EFF sê hy identifiseer Danny Jordaan lank reeds as ‘n korrupte ANC-kader
# En Trump kies die omstrede Matt Gaetz as prokureur-generaal
# Die minister in die presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die kabinet het nie toestemming gegee dat die SABC-wetsontwerp in die Parlement onttrek word nie. Die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologie, Solly Malatsi, het die wetsontwerp onttrek en voer aan die wetgewing dien nie die langtermynbelange van die openbare uitsaaier of die Suid-Afrikaanse publiek nie. Ntshavheni sê die minister het geen mag om die wetsontwerp terug te trek nadat die kabinet dit goedgekeur het nie:
# Die EFF sê hy het lankal die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging se president, Danny Jordaan, as ‘n korrupte ANC-kader in die vereniging geïdentifiseer. Jordaan en twee ander word aangekla van bedrog en diefstal wat verband hou met die wanaanwending van 1,3-miljoen-rand. Die EFF vra ʼn deeglike en onafhanklike ondersoek na SAFA se finansies tydens Jordaan se termyn. Hy sê daar moet gefokus word op waarheen die vereniging se finansies gegaan het, insluitend verkryging en betalings aan diensverskaffers wat heel moontlik ANC-bande het.
# Die metaalwerkersvakbond, Numsa, begin vandag staak by ArcelorMittal in Vanderbijlpark. Dit volg nadat die maatskappy meer as 100 werkers aan die vooraand van die feestyd afgedank het. Woordvoerder Phakamile Hlubi-Majola beskuldig die werkgewer daarvan dat hy weier om ander moontlikhede te ondersoek, soos skeidingspakkette of heraanstelling, met baie werkers wat gaan swaarkry:
# Amerika se gekose president Donald Trump het die omstrede kongreslid, Matt Gaetz, as prokureur-generaal benoem. Hy het Woensdagaand laat uit die Kongres bedank. Dit beëindig die Huis se etiekkomitee se ondersoek na bewerings van finansiële en seksuele wangedrag teen hom. Hy ontken die bewerings. ʼn Senator van die Demokratiese Party, Chris Murphy, het aan CNN gesê Gaetz se benoeming as prokureur-generaal laat gevaarligte flikker vir Amerikaanse demokrasie:
# Tennis: Die viermalige Grand Slam-kampioen, Carlos Alcaraz, het sy eerste oorwinning by die ATP-jaareindtoernooi in Turyn, Italië, behaal. Die Spanjaard het van siekte herstel en die Rus, Andrey Rublev geklop in die John Newcombe-groep. Hy streef daarna om die tweede agtereenvolgende jaar die halfeindronde te haal. Intussen is die Duitser, Alexander Zverev, ʼn stap nader aan die halfeindronde nadat hy Casper Ruud van Noorweë verslaan het. Zverev wil sy derde titel by die ATP-jaareindtoernooi behaal nadat hy in 2018 en 2021 met die trofee weggestap het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-26-sent teen die dollar, 19-rand-27-sent teen die euro en 23-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-898-dollar-10-sent. Die prys van goud is twee-duisend-562-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-6-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….