Nuus 08:00
BULLETIN 13 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die GOOD-party sê werkloosheid bly hardnekkig hoog
# ‘n Voormalige apartheidspolisiebeampte pleit skuldig aan moord op ‘n studente-aktivis
# En Elon Musk is deel van Trump se regering
# Die GOOD-party sê alhoewel die verbetering in Suid-Afrika se werkloosheidsyfer gevier moet word, is dit steeds te hoog. Die syfer het in die derde kwartaal vanjaar effens afgeneem met 1,4-persent tot 32,1-persent. Agt-miljoen landsburgers is steeds werkloos. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê die regering moet ‘n basiese inkomste-toelaag instel:
Cosatu sê intussen die werkloosheidsyfer se effense daling van 33,5-persent tot 32,1-persent, word verwelkom nadat werkloosheid drie agtereenvolgende kwartale gestyg het. Sowat 294-duisend meer mense het in vanjaar se derde kwartaal werk gehad. Cosatu-woordvoerder Matthew Parks sê werkloosheid onder jongmense bly gevaarlike hoog. Hy sê die privaat sektor moet die vlaag afleggings staak en alternatiewe soek:
# ʼn Gewese polisiebeampte uit die apartheid-era, Johan Marais, het skuldig gepleit aan die moord in 1987 op die studente-aktivis, Caiphus Nyoka. Hy het gister in die Hooggeregshof in Pretoria verskyn. Marais sê in sy pleitrede dat Nyoka gekant was teen die apartheidsregering en hy is as ʼn gevaar beskou weens sy betrokkenheid by onderwys- en plaaslike politiek. Marais is uit op borgtog van vyf-duisend-rand, met sekere voorwaardes. Hierdie is een van die sake wat die Waarheids- en Versoeningskommissie na die Nasionale Vervolgingsgesag verwys het.
# Amerika se gekose president Donald Trump het aangekondig die miljardêr, Elon Musk, en voormalige Republikeinse presidentskandidaat, Vivek Ramaswamy, sal in sy administrasie aan die hoof staan van ʼn nuwe Departement van Regeringsdoeltreffendheid. Trump sê dié twee sal die weg baan om ontslae te raak van regeringsburokrasie, onnodige regulasies kanselleer, verkwistende uitgawes besnoei en federale agentskappe herstruktureer. Hy het ook die Fox News-aanbieder en weermagveteraan, Pete Hegseth, aangewys as minister van Verdediging terwyl die goewerneur van Suid-Dakota, Kristi Noem, Binnelandse Veiligheid sal lei.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, het twee agtereenvolgende seges by die ATP-jaareindtoernooi in Turyn, Italië, behaal en is ʼn stap nader aan die halfeindronde. Hy het die Amerikaner, Taylor Fritz geklop. In die ander wedstryd van die Ilie Nastase-groep, het Daniil Medvedev van Rusland, wat Sondag sy aanvangswedstryd verloor het, die Australiër, Alex de Minaur verslaan. Sinner sê hy het geweet Fritz gaan aggressief wees en hy was voorbereid:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-7-sent teen die dollar, 19-rand-20-sent teen die euro en 23-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-846-dollar-74-sent. Die prys van goud is twee-duisend-611-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-39-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….