Nuus 08:00
BULLETIN 12 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Spesiale Ondersoekeenheid gaan SASRIA-uitbetalings van meer as 28-miljard-rand ondersoek
# SANCO verbreek bande met die ANC in KwaZulu-Natal
# En hernude betogings breek uit in Amsterdam
# President Cyril Ramaphosa het die Spesiale Ondersoekeenheid toestemming gegee om die Suid-Afrikaanse Spesiale Risikoversekeringsvereniging te ondersoek oor eise en uitbetalings wat verband hou met 2021 se openbare onrus in Gauteng en KwaZulu-Natal. Die eise het net meer as 28,5-miljard-rand beloop. Die eenheid se woordvoerder, Kaizer Kganyago, sê die ondersoek moet vasstel of die eise in ooreenstemming was met die toepaslike wetgewing of Nasionale Tesourie se praktyke:
# FlySafair het ‘n dringende aansoek ingedien vir ‘n interdik teen die Suid-Afrikaanse Internasionale Lugdiensteraad, wat bevind het die laekostelugredery se aandeelhoudingstruktuur voldoen nie aan die wet nie. Die Ierse maatskappy ASL Aviation besit byna 75-persent van FlySafair se aandele, terwyl die Suid-Afrikaanse Lugrederyewet buitelandse aandeelhouding in plaaslike lugdienste beperk tot 25-persent. Daar is ook bevind die lugredery het nie aansoek gedoen vir ‘n wysiging aan sy lugdienslisensie toe die eienaarskapstruktuur in Maart 2019 verander is nie. FlySafair sê hy vertrou hy voldoen aan bestaande regulasies.
# Die South African National Civic Organisation in KwaZulu-Natal het besluit om onmiddellik bande met die ANC te verbreek en beskryf die party as ‘n arrogante alliansievennoot. Dit volg terwyl die ANC se nasionale uitvoerende komitee moontlik volgende maand die provinsiale leierskap kan ontbind nadat die party die Mei-verkiesing in KwaZulu-Natal verloor het. Sanco se sekretaris, Sizwe Cele, het aan Newzroom Afrika gesê die ANC het misluk om die alliansie in die provinsie te lei:
# Nuwe onluste het gister [Maandag] in een van Amsterdam se voorstede uitgebreek met betogers wat openbare infrastruktuur vernietig. Die oproer in Nieuw-West kom te midde van ʼn noodtoestand in die stad nadat geweld Donderdag na ʼn sokkerwedstryd tussen Ajax en Maccabi Tel Aviv uitgebreek het. Die Nederlandse polisie het intussen nog vyf mense gearresteer tydens hul ondersoek na verlede week se geweld. Nederland se eerste minister, Dick Schoof, het die voorvalle as anti-Semitiese aanvalle veroordeel.
# Tennis: Die sesde gekeurde Casper Ruud het die Wimbledon-kampioen, Carlos Alcaraz, verslae gelaat in hul openingswedstryd van die ATP-jaareindtoernooi in Turyn, Italië. Die Noorweër het die Spanjaard afgeransel in die John Newcombe-groep en sy 50ste sege van die seisoen behaal. Die Duitser, Alexander Zverev wat sy derde trofee by ʼn ATP-jaareindtoernooi wil opraap, het Andrey Rublev van Rusland verslaan. Ruud sê dis vir hom een van die beste oorwinnings van die seisoen:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-93-sent teen die dollar, 19-rand-9-sent teen die euro en 23-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-789-dollar-53-sent. Die prys van goud is twee-duisend-622-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 71-dollar-72-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….