Nuus 08:00
BULLETIN 9 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# SALGA in KwaZulu-Natal hou ‘n noodvergadering oor die uitbreking van voedselvergiftiging
# Suid-Afrika spreek kommer uit oor Trump se invloed op klimaatgesprekke
# En, rugby: ‘n Gewese liga-ster maak vandag sy buiging vir die Wallabies teen Engeland
# Die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging in KwaZulu-Natal het dringend met munisipale omgewingsgesondheidspraktisyns vergader om toenemende voedselvergiftigingsvoorvalle onder leerders te bespreek. Dit gebeur terwyl honderde leerders geraak is deur die uitbreking. In ‘n onderhoud met die SABC het die direkteur van SALGA in die provinsie, Sabelo Gwala, kommer uitgespreek oor tekortkomings in die stelsel en stygende misdaadbedrywighede, en gevra vir beslissende maatreëls om nog sterftes weens besmette kos te keer:
In Gauteng is 21 leerders van Vuyani Primary School in Tsakane ontslaan nadat hulle opgeneem is met ‘n vermeende voedseloordraagbare ongesteldheid. Die leerders is by verskeie gesondheidsorggeriewe behandel. Dit volg nadat meer as 100 leerders van Tamaho Primary School in Katlehong Woensdag ook by verskeie klinieke en hospitale behandel is teen soortgelyke simptome. Die woordvoerder van die Gautengse Onderwysdepartement Steve Mabona sê die oorsaak is nog onbekend:
Intussen het die burgemeesterskomiteelid vir Ontwikkelingsbeplanning in Ekurhuleni, Nomadlozi Nkosi, gewaarsku spaza- en informele winkels wat nie aan regulasies voldoen nie, sal gesluit word. Sy het in die lig van onlangs voedselvergiftigingsgevalle ‘n beroep op handelaars gedoen om sakeperpermitte, sonering en gesondheidsertifikate voor te lê. Nkosi het in ‘n verklaring aangekondig ‘n openbare opvoedingsveldtog en keuringsproses sal volgende week begin om gemeenskapsgesondheid te beskerm. Die stad se klopjagte saam met die SAPD en Omgewingsgesondheid, teiken ook groothandelaars om te verhoed dat vervalste goedere en kos wat reeds verval het, inwoners bereik.
# Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, het kommer uitgespreek oor Donald Trump se Amerikaanse verkiesingsoorwinning wat moontlik COP29-klimaatgesprekke kan ontwrig. George het in gesprek met Reuters gesê Trump se skeptiese siening oor klimaatsverandering kan ryk nasies se steun beïnvloed, wat op sy beurt dan ontwikkelende lande se klimaatsdoelwitte kan beïnvloed. George sê Suid-Afrika is bekommerd omdat daar ‘n vraagteken is oor die VSA se benadering tot COP29. Hy sê ondanks Berlyn se koalisiekrisis het Duitsland Suid-Afrika gerusgestel en sê Europa sal sy verpligtinge nakom.
# En, rugby: Die gewese rugbyliga-ster Joseph-Aukuso Suaalli maak sy buiging vir die Wallabies in vanmiddag se toets teen Engeland op Twickenham in Londen. Dit sal die 21-jarige se eerste senior wedstryd in rugbyunie wees nadat hy minder as ‘n maand gelede van kode verander het. Hy speel van volgende jaar af Superrugby vir die Waratahs nadat hy ‘n driejaarkontrak ter waarde van 61-miljoen-rand met Rugby Australië onderteken het. Die Wallabies se hoofafrigter, Joe Schmidt, glo nie Suaalii se insluiting is ‘n risiko nie, maar eerder ‘n geleentheid.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….