Nuus 08:00
BULLETIN 15 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister De Lille sê die voorlopige skorsing van die uitvoerende hoof van SA Toerisme is onregmatig
# Donald Trump sê daar is ‘n 25-persent kans dat sy ontmoeting met Putin onsuksesvol sal wees
# En motorsport: Red Bull Racing verbreek sy oorblywende bande met Christian Horner
# Die minister van Toerisme, Patricia De Lille, sê die voorlopige skorsing van SA Toerisme se hoof, Nombulelo Guliwe is onregmatig. Suid-Afrikaanse Toerisme se raad het Guliwe met onmiddellike ingang voorlopig geskors na ernstige bewerings van growwe wangedrag. Onder Guliwe se beheer is SA Toerisme onlangs in ‘n tenderskandaal gedompel ná bewerings van onreëlmatighede in die toekenning van ʼn 100-miljoen-rand-tender aan Pomme Express. De Lille sê die raad kan nie Guliwe skors nie omdat daar nie ʼn voorsitter of ondervoorsitter is nie:
# Sakeliga en die Nasionale Werkgewersvereniging van Suid-Afrika sal vandag in die Hooggeregshof in Pretoria verskyn om die nuwe kwotas vir gelyke indiensneming te betwis. Die organisasies voer aan die ras- en geslagsgebaseerde kwotas, wat volgende maand in werking sal tree, is sonder behoorlike raadpleging ingestel, sal duur wees en moeilik vir ondernemings om toe te pas. Hulle soek dringende regsverligting om die instel van hierdie kwotas te stop.
# Die burgemeester van Tshwane, Nasiphi Moya, sê die jongste kwartaallikse arbeidsmagopname bevestig dat die metro oor die afgelpe jaar aansienlike vordering gemaak het met werkskepping. Van die tweede kwartaal in 2024 tot die tweede kwartaal vanjaar, het Tshwane 71-duisend van die 83-duisend nuwe werkgeleenthede in Gauteng geskep. Die woordvoerder van die burgemeester, Samkelo Mgobozi, sê dit is ‘n uitsonderlike 85-persent aandeel in die provinsie se groei in die arbeidsmag:
# President Donald Trump van Amerika sê daar is ʼn 25-persent-kans dat sy ontmoeting met sy Russiese ampsgenoot, Vladimir Putin, vandag sal misluk. Die twee leiers vergader die eerste keer in ses jaar in Alaska. Die Oekraïnse president Volodymyr Zelensky is uitgesluit van die onderhandeling, en waarsku enige besluite wat in sy afwesigheid geneem word, is waardeloos. Trump hou vol hy sal nie toelaat dat Putin die oorhand kry tydens die ontmoeting nie:
# Motorsport: Red Bull Racing het sy laaste amptelike bande met Christian Horner verbreek en hom verwyder as direkteur van die twee hoofmaatskappye agter sy Formule Een-bedrywighede. Die 51-jarige Horner is verlede maand verwyder uit sy amp as Red Bull-spanhoof en uitvoerende hoof wat sy 20-jaar aan die stuur beëindig. Volgens dokumente wat ingedien is by Companies House, die amptelike bewaarder van sakerekords in die Verenigde Koninkryk, is Horner verwyder van Red Bull Racing en Red Bull Technologies se rade.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-58-sent teen die dollar, 20-rand-50-sent teen die euro en 23-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 119-duisend-066-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-340-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-32-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….