Nuus 08:00
BULLETIN 7 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Daniel Silke sê Trump se oorwinning sal die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika toets
# Gebeurlikheidsplanne is in plek om te verseker dat die matriekeksamen voortgaan te midde van weersomstandighede
# En die Stad Johannesburg ontken hy is bankrot
# Amerika se gekose president, Donald Trump, se oorwinning sal sy land se verhouding met Suid-Afrika toets wat die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika betref. Dit is die mening van die politieke ontleder, Daniel Silke. Suid-Afrika is die grootste begunstigde van die AGOA-program wat belastingvrye toegang tot Amerikaanse markte verskaf aan goedgekeurde lande suid van die Sahara. Silke sê Trump se sege sal bepaal of AGOA as diplomatieke hefboom gebruik word, en of die strategiese voordeel van toegang tot markte die belangrikste motivering bly:
Intussen doen Solidariteit ‘n beroep op die verkose Amerikaanse president om die goeie handelsverhoudinge te behou wat Suid-Afrika opgebou het met die VSA. Die toekoms van AGOA onder Trump se administrasie is onseker, met minstens 13-duisend Suid-Afrikaanse werksgeleenthede wat afhanklik is van doeanevrye toegang tot die Amerikaanse mark. Solidariteit het ook die regering van nasionale eenheid gewaarsku om versigtig te wees om nie ekonomiese bande en handelsvoordele met die VSA te skaad deur oorhaastige beleidsbesluite en -verklarings nie.
# Die Departement van Basiese Onderwys het gebeurlikheidsplanne in werking gestel om te verseker die Nasionale Senior Sertifikaateksamen kan voortgaan sonder onderbrekings deur slegte weer. Swaar reën, storms en oorstromings in dele van Limpopo, Mpumalanga, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap het toegang tot eksamenlokale belemmer. Die department moes noodgedwonge alternatiewe lokale beskikbaarstel en eksamens herskeduleer. Minister Siviwe Gwarube het leerders geprys vir hul deursettingsvermoë v en die vinnige optrede van onderwysers en amptenare om steeds by eksamenskedules te hou:
# Die Stad Johannesburg ontken berigte dat hy finansieel bankrot is, ten sterkste. Volgens die berigte het swak invorderings veroorsaak dat die metro se oorskot van 1,2-miljard-rand in 2022 getuimel het tot skuld van 300-miljoen-rand aan die einde van die 2023-boekjaar. Die kredietgraderingsagentskap, Moody’s, het die metro in Desember verlede jaar na rommelstatus afgegradeer. Die metro se woordvoerder, Virgil James, sê sy likiditeit is binne die Nasionale Tesourie se veilige grense:
# Tennis: China se Olimpiese gouemedaljewenner, Qinwen Zheng, is deur na die halfeindronde van die WTA-jaareindtoernooi in Riaad, Saoedi-Arabië. Die 22-jarige speler het Jasmine Paolini van Italië afgeransel. Zheng is die jongste speler om met haar eerste verskyning die WTA-jaareindtoernooi se halfeindronde te haal, nadat Petra Kvitova dit in 2011 reggekry het. Intussen het die Kazak, Elena Rybakina wat reeds uitgeskakel is, die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka verras. Ten spyte van die nederlaag, het die speler van Belarus steeds die rondomtalie-stadium as groepswenner afgesluit.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-65-sent teen die dollar, 18-rand-95-sent teen die euro en 22-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-473-dollar-8-sent. Die prys van goud is twee-duisend-663-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 74-dollar-99-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….