Nuus 08:00
BULLETIN 6 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die telling van stemme in die VSA tel spoed op
# Die SAKP sê die partye in die regering van nasionale eenheid verskil te veel om saam te werk
# En die Lebombo-grenspos is tydelik gesluit
# Stemtellery tel spoed op in sleutel Amerikaanse deelstate, waaronder Georgia en Noord-Carolina, terwyl nog uitslae inkom. Die voormalige president Donald Trump het gewen in sy tuisstaat Florida, Texas, Oklahoma, Suid-Carolina, Tennessee en Louisiana. Die visepresident Kamala Harris het gewen in Illinois, Massachusetts, Rhode Island, Maryland en Connecticut. Dit is nog te vroeg om te bepaal wat gebeur het in die strydstate van Georgia, Noord-Carolina, Pennsylvania, Arizona, Michigan, Wisconsin and Nevada, wat beskou word as deurslaggewend in die kandidate se stryd om oorwinning.
# Die hoofsekretaris van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party Solly Mapaila sê daar is beroering in die regering van nasionale eenheid en die sleutelpartye verskil te veel om saam te werk. Hy het Dinsdag die polisie- en gevangenes-burgerregtevakbond, Popcru, se sentrale uitvoerende komiteevergadering in Boksburg toegespreek. Mapaila het die ANC gekritiseer omdat hy Helen Zille van die DA nie in toom hou nie en sê haar aanhoudende uitbarstings bewys die Kommunistiese Party se standpunt teen die regering van nasionale eenheid is reg:
# Die munisipale vakbond, Samwu in die Vrystaat, veroordeel die klimaat van vrees in die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit na die skuldigbevinding van burgemeester, Thanduxolo Khalipha, weens aanranding. Die vakbond eis die onmiddellike verwydering van Khalipha as raadslid sowel as burgemeester en beklemtoon die veiligheid van werkers moet voorrang geniet. Die provinsiale sekretaris van Samwu, Thabang Tseuoa, versoek die ANC om hom onverwyld uit die amp te verwyder en bepleit leierskap wat die veiligheid en respek vir alle werkers in die gemeenskap bevorder.
# Die Grensbestuursowerheid het die Lebombo-grenspos tot verdere kennisgewing tydelik gesluit ná gewelddadige betogings in Mosambiek. Die betogings het die einde van verlede maand uitgebreek nadat Mosambiek se verkiesingsuitslag bekendgemaak is. Geweld het voorgekom by Ressano Garcia, ‘n klein gebied in die Maputo-provinsie naby die Lebombo-grenspos. Die owerheid se adjunk-hulpkommissaris, Mmemme Mogotsi, sê sewe Mosambiekse polisiebeamptes het by die Suid-Afrikaanse grenspos skuiling gesoek:
# Sokker: Die voormalige kampioen, Manchester City, het in die Kampioeneliga ʼn vier-een-nederlaag teen Sporting gelei. Sporting se Skandinawiese superster, Viktor Gyokeres, het ʼn driekuns behaal en die Portugese kampioene is nou tweede op die Kampioeneliga-punteleer. Dit is City se ergste nederlaag sedert September 2020. Liverpool het Bayer Leverkusen met vier-nul verpletter terwyl AC Milan met drie-een teen Real Madrid geseëvier het. City se afrigter Pep Guardiola sê hulle was nie klinies genoeg nie:
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-76-sent teen die dollar, 19-rand-12-sent teen die euro en 22-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-908-dollar-4-sent. Die prys van goud is twee-duisend-739-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 75-dollar-6-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….