Nuus 08:00
BULLETIN 1 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA is gefrustreerd met die Openbare Beskermer se bevindings oor Thabo Bester
# AfriForum stel ‘n veldtog bekend om Dag Zero in Gauteng af te weer
# En netbal: Suid-Afrika behaal ‘n oortuigende oorwinning in hul eerste toets teen Malawi
# Die DA versoek die Parlement om sy ondersoek na die ontsnapping van die veroordeelde verkragter en moordenaar, Thabo Bester, te heropen. Die party is gefrustreerd oor die beperkte bevindinge van die ondersoek deur die Openbare Beskermer na Bester se ontsnapping uit die Mangaung Korrektiewe Sentrum in die Vrystaat in Mei 2022. DA-woordvoerder, Janho Engelbrecht, kritiseer die beperkte omvang van die verslag en sê dit slaag nie daarin om alle verantwoordelike partye aanspreeklik te hou nie:
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Openbare Werke en Infrastruktuur sê ‘n gesamentlike poging is nodig om die Uitgebreide Openbarewerkeprogram te befonds en te hervorm. Die program poog om tydelike werksgeleenthede vir werkloses te skep. Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean McPherson, het aan die komitee gesê die program het ʼn begrotingsbesnoeiing van 700-miljoen-rand gehad wat dienslewering negatief beïnvloed. Die komitee sê hy sal die departement ondersteun om kwessies te hanteer soos politieke begunstiging, korrupsie en beperkte vaardighede wat in die program aangeleer word.
# AfriForum het ʼn veldtog bekendgestel wat munisipaliteite in Gauteng sal dwing om die 72-uur-spertyd om waterlekkasies reg te maak, na te kom. Rand Water het weens ʼn toename in aanvraag ʼn vlak een-waterbeperking tot Maart volgende jaar in die provinsie ingestel. AfriForum-woordvoerder Lambert de Klerk sê die veldtog is daarop gemik om Dag Zero in die provinsie te voorkom en die verlies aan drinkwater weens lekkasies, wat tans sowat 33-persent is, te verminder:
# Die Withuis het Noord-Korea veroordeel nadat hy ʼn langafstand- ballistiese missiel afgevuur het en sê dis ʼn blatante skending van talle resolusies van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad. Noord-Korea het gisteroggend ʼn nuwe tussenkontinentale ballistiese missiel, Hwasong-19, getoets. Die toets volg nadat Noord-Korea blykbaar sy kernproduksie-pogings verskerp en bande met Rusland versterk het. Dit veroorsaak wydverspreide kommer in die Weste. Die Nasionale Sekerheidsraad se woordvoerder, Sean Savett, sê die afvuur van die missiel skep onnodige spanning in die streek.
# Netbal: Suid-Afrika het ʼn gemaklike 68-31-sege oor Malawi behaal in die eerste van drie toetse in Johannesburg. Die besoekers het in die eerste kwart 11 doele behaal teenoor die gasvroue se 16. Die Suid-Afrikaners het teen die einde van die tweede kwart die gaping tot 48-27 vergroot. Die Proteas het hulle oorheersing in die derde en vierde kwarte voortgesit om hul oorwinning te verseker. Die afrigter, Jenny van Dyk, sê sy is tevrede met haar span se vertoning:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-59-sent teen die dollar, 19-rand-12-sent teen die euro en 22-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-554-dollar-50-sent. Die prys van goud is twee-duisend-748-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-87-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….