Nuus 08:00
BULLETIN 31 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Gwarube verwelkom die bykomende fondse vir onderwys
# Die burgemeester van Joburg verseker inwoners dat hul krane nie sal opdroog nie
# En Trump sê sy ondersteuners is nie gemors nie
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, het die toekennings aan die onderwyssektor wat in die mini-begroting aangekondig is, verwelkom. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het nog 376-miljard-rand aan dié sektor toegewys om sekere inisiatiewe om infrastruktuur te bou, te verbeter en in stand te hou, te ondersteun. Gwarube sê provinsiale onderwysdepartemente se begrotingsdruk hou steeds ‘n bedreiging in vir die lewering van gehalte-onderwys:
Die Vryheidsfront Plus sê in sy kommentaar op die mediumtermynbegroting dit lyk asof die blinde optimisme en vae beloftes van die verlede plek gemaak het vir ‘n meer pragmatiese perspektief op Suid-Afrika se ekonomiese en fiskale probleme. Die VF Plus sê een positiewe aspek is dat die minister besef prioriteite is nodig om ‘n werkbare en stabiele fiskale raamwerk op te stel om groei te bewerkstellig. Hy sê die regering van nasionale eenheid het hoop laal opvlam dat positiewe verandering wel moontlik is.
# Johannesburg se burgemeester, Dada Morero, sê daar is ondanks die waterprobleme geen aanduidings dat dag zero sal aanbreek nie. Die metro staar ʼn ernstige waterkrisis in die gesig weens voortslepende droogtetoestande, klimaatsverandering, hoë watergebruik waarvoor nie betaal word nie en uitdagings met infrastruktuur. Morero sê watergebruik oorskry die beskikbare voorraad omdat bevolkingsgetalle toeneem en die grootmaatwater-infrastruktuur onder druk verkeer:
# Oudpresident Donald Trump sê sy ondersteuners is die hart en siel van Amerika. Hy het by ʼn saamtrek in Wisconsin gepraat waar hy ʼn oranje veiligheidsbaadjie gedra het. Sy veldtog-span reageer op opmerkings wat president Joe Biden gemaak het waarin hy blykbaar Trump-ondersteuners gemors noem. Biden sê hy het na ʼn komediant verwys wat by ʼn Trump-saamtrek gesê het Puerto Rico is ʼn drywende eiland van gemors. Trump sê sy ondersteuners is van beter gehalte as Biden:
# Tennis: Die vyfde gekeurde Rus, Daniil Medvedev, is by die Parys-meesters uitgeskakel nadat hy in die tweede ronde teen die Australiër, Alexei Popyrin, verloor het. Dit is Medvedev se derde agtereenvolgende nederlaag in die aanvangsronde in Parys. Die agtste gekeurde Bulgaar, Grigor Dimitrov, het die Argentyn, Tomas Martin Etcheverry geklop en staan ʼn kans om vir die ATP-jaareindtoernooi in Turyn te kwalifiseer. Die Britse nommer een, Jack Draper, het Taylor Fritz van Amerika verslaan om die derde ronde te haal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-67-sent teen die dollar, 19-rand-16-sent teen die euro en 22-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-251-dollar en 40-sent. Die prys van goud is twee-duisend-783-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….