Nuus 08:00
BULLETIN 30 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# BOSA is gekant teen enige verlaging in die onderwysbegroting
# Kamala Harris sê die verkiesing is ‘n keuse tussen vryheid en verdeeldheid
# En sokker: Banyana Banyana verloor naelskraaps teen Engeland
# Build One South Africa sê hy is gekant teen enige besnoeiing aan die onderwysbegroting en waarsku die regering om alternatiewe bronne vir befondsing te vind. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, lewer vandag sy mediumtermynbegroting in die Parlement. BOSA se president, Mmusi Maimane, sê hulle het talle bronne identifiseer van waar minstens 50-miljard-rand na die onderwysbegroting herlei kan word om te verseker onderwysers word behoorlik ondersteun:
# Die gewese minister van Binnelandse Sake en Openbare Ondernemings, Malusi Gigaba, is gekies as medevoorsitter van die parlementêre gesamentlike komitee oor Verdediging. Hy het sewe stemme gekry en Nicholas Gotsell van die DA vyf. Phiroene Anthony Phala van die ANC is die ander voorsitter. Gigaba is deur die staatskapingskommissie betrek omdat hy na bewering met oudpresident Jacob Zuma en die Gupta-familie saamgesweer het. Hy sê hy is, gegewe sy agtergrond in die regswese, vrede en die kabinet se sekerheidsgroepering, seker hy sal die portefeulje kan hanteer.
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, het die Valke geloof vir die vinnige inhegtenisneming van 14 verdagtes op bewerings van bedrog en geldwassery. Dit sluit ‘n gewese Nedbank-werknemer in. Volgens berigte het die hoofverdagte onwettig betalings gemaak van verdagte rekeninge ter waarde van meer as 157-miljoen-rand. Dit is oorgeplaas na ontvangers wat nie daarop geregtig was nie. Die ministerie se woordvoerder, Kamogelo Mogotsi, sê die verdagtes is in Pretoria, Johannesburg en Krugersdorp vasgetrek:
# Amerika se visepresident Kamala Harris sê die verkiesing is ʼn keuse tussen ʼn land wat gevestig is in vryheid vir elke Amerikaner, of om deur chaos en verdeling regeer te word. Sy het haar veldtog se slotbetoog by die Ellipse in Washington gelewer waar oudpresident Donald Trump se ondersteuners op 6 Januarie 2021 bymekaar gekom het voor hulle die Amerikaanse Kongresgebou bestorm het. Harris sê Trump sal die Oval Office binnestap met ʼn lys vyande terwyl sy met ʼn doen-lysie sal in stap:
# Sokker: Die Afrika-kampioene Banyana Banyana het met twee-een teen die Europese kampioene, Engeland, verloor in ʼn vriendskaplike wedstryd in Coventry. Kaptein Leah Williamson, wat in haar 50ste wedstryd vir die Lionesses uitgedraf het, en Grace Clinton se doele in die eerste helfte het die gasvroue se oorwinning beklink. Thembi Kgatlana het Suid-Afrika se troos-doel aangeteken. Dit was dié twee spanne se eerste ontmoeting sedert die Siprusbeker-toernooi in Februarie 2010.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-66-sent teen die dollar, 19-rand-10-sent teen die euro en 22-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-397-dollar-33-sent. Die prys van goud is twee-duisend-780-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-38-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….