Nuus 08:00
BULLETIN 26 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Ministerie van Polisie gaan die strafregstelsel ingrypend verander
# Sterk wind, swaar reën en koue weer word oor Suid-Afrika verwag
# En, sokker: Ten Hag gee beserings die skuld vir Man United se treurmare
# Die minister van Polisie Senzo Mchunu het planne aangekondig om die strafregstelsel ingrypend te verander, wat hervorming insluit van die paroolstelsel, weens kommer oor mense op parool wat weer oortree. Dit kom nadat die Nasionale Vervolgingsgesag onthul het dat ‘n verdagte in die Lusikisiki-massamoord uit was op parool vir moord. Hy beklemtoon die behoefte om te keer dat gevangenes misdade uit die tronk koördineer:
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens waarsku ‘n lente-afsnylaag sal van vandag tot Dinsdag swaar weer veroorsaak. Stormsterk wind word oor die Kaapse provinsies verwag, met sterk wind in Gauteng, Noordwes, die Vrystaat en KwaZulu-Natal. Swaar reën kan oorstromings veroorsaak, terwyl kusstreke golwe met ‘n deining van tot ses meter kan verwag. Temperature sal van môre af aansienlik daal. Die Weerdiens vra waaksaamheid op belangrike roetes.
# Die Palestine Solidarity Campaign en ander burgerregtegroepe gaan Maandag voor die Hooggeregshof in Kaapstad betoog. Hulle wil die Suid-Afrikaanse regspan ondersteun om hul saak by die Internasionale Strafhof te stel oor die beweerde volksmoord op Palestyne deur Israel. Woordvoerder Dominique Pereira sê prokureurs en gesondheidswerkers sal ‘n beroep doen om ‘n einde aan Israelse apartheid te maak en sanksies teen die land aanbeveel:
# ‘n Voormalige bevelvoerder van Uganda se berugte Lord’s Resistance Army is 40-jaar tronk toe gestuur na ‘n geskiedkundige oorlogsmisdaadverhoor. Thomas Kwoyelo is skuldig bevind op 44 aanklagte, insluitend moord, verkragting, ontvoering en plundering. Hy het alle betrokkenheid ontken. Kwoyelo is die eerste bevelvoerder van die gevreesde rebellegroep wat deur ‘n Ugandese hof skuldig bevind is. Die weerstandsleër word beskuldig van gruweldade in Uganda en buurlande nadat dit in die laat 1980’s gestig is.
# En, sokker: Hoofafrigter Erik ten Hag gee Manchester United se ellelange beseringslys die skuld vir die klub se treurmare wat hom sy posisie kan kos. Die Nederlander ondervind United se ergste afskop in ‘n senior kompetisie sedert die 1989/90-seisoen, hoewel verlede week se oorwinning oor Brentford die druk effens verlig het. Die span is tans 12de in die Premiersliga-kompetisie voor môre se wedstryd teen West Ham, ‘n kragmeting wat Ten Hag nie kan bekostig om te verloor nie. United het nou slegs een van sy afgelope sewe wedstryde in alle kompetisies gewen.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….