Nuus 08:00
BULLETIN 24 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# BOSA bepleit ‘n 50-persent matriekslaagpunt
# Die Spesiale Ondersoekeenheid verwelkom die arrestasie van ‘n voormalige Transnet-bestuurder
# En die VN waarsku die konflik in Gaza en Libanon spoel oor na Sirië
# Build One South Africa bepleit die graad 12-slaagpunt moet verander van die huidige 30-persent, na ‘n minimum van 50-persent. Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, het in antwoord op BOSA se Parlementêre vraag bevestig daar is geen planne om die slaagsyfer te verander nie, maar ‘n raadgewende span sal saamgestel word om hervormings te oorweeg. Nobuntu Hlazo-Webster van BOSA voer aan die lae standaard is nadelig vir die Suid-Afrikaanse jeug en hul toekoms:
# Die Spesiale Ondersoekeenheid het die inhegtenisneming en hofverskyning van Transnet Group Capital se uitvoerende hoof, Herbert Msagala, verwelkom. Hy het in die Johannesburgse Gespesialiseerde Handelsmisdaadhof verskyn op aanklagte van bedrog, korrupsie, diefstal en geldwassery. Hy is tans uit op borgtog van 60-duisend-rand. Msagala word verbind met vyf verdagte kontrakte aan IGS Consulting Engineering met ‘n geraamde waarde van meer as 160-miljoen-rand in 2015. Die Ondersoekeenheid sê Msagala se vervolging is deel van die Nasionale Teenkorrupsie-strategie.
# Die Oos-Kaapse premier, Oscar Mabuyane, het die vinnige inhegtenisneming van twee verdagtes verwelkom wat verbind word met die moord Vrydag op vyf familielede in Bityi. Gewapende mans het die Seti-woning binnegegaan, vyf mense vermoor en twee kinders gewond. Die verdagtes van 22 en 39 is Dinsdag in Msukwini vasgetrek. Die provinsiale regering se woordvoerder, Khuselwa Rantjie, sê hierdie deurbraak toon die wetstoepassingsagentskappe se toewyding en ervaring:
# Die Verenigde Nasies waarsku die konflik in Gaza en Libanon spoel oor na Sirië wat ʼn reeds ernstige humanitêre situasie vererger. Ongeveer 425-duisend mense het die afgelope weke van Libanon na Sirië gevlug om verskerpte lugaanvalle en geweld te vry te spring. Die VN sê Israel het sedert Oktober verlede jaar meer as 116 lugaanvalle in Sirië uitgevoer en infrastruktuur en stedelike sentrums aangeval. Hy sê volgens Israel was Hizbollah- en Iran-verwante wapenroetes in sy visier. Hy sê dit kan die brose skietstilstand-ooreenkomste laat misluk en vredespogings moeiliker maak.
# Sokker: Erling Haaland het twee doele aangeteken en Manchester City het Sparta Prague by die Etihad-stadion met vyf-nul verpletter. Die span het ʼn nuwe rekord opgestel vir die langste onoorwonne lopie in die Kampioeneliga. Dit verbeter Manchester United se vorige onoorwonne rekord van 25. Liverpool het drie seges in drie wedstryde behaal toe Darwin Nunez se wendoel die span ʼn een-nul-oorwinning oor RB Leipzig besorg het. ʼn Driekuns van Raphinha het Barcelona met vier-een teen Bayern Munich laat seëvier, en Lille het Atletico Madrid met drie-een verslaan.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-78-sent teen die dollar, 19-rand-19-sent teen die euro en 22-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-210-dollar-98-sent. Die prys van goud is twee-duisend-721-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 75-dollar-85-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….