Nuus 08:00
BULLETIN 22 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Taiwan sê hy sal nie sy ambassade uit Pretoria verskuif nie
# Die families van veiligheidswagte wat tydens ‘n staking vermoor is, sê geregtigheid het geskied
# En Liz Cheney beskryf Trump as wisselvallig en onstabiel
# Taiwan se minister van Buitelandse Sake, Lin Chia-lung, beskuldig Suid-Afrika dat hy ‘n ooreenkoms van 1997 tussen die twee lande verbreek. Dit volg na die regering geëis het dat Taiwan sy de facto ambassade op aandrang van China teen die einde van die maand van Pretoria na Johannesburg verskuif. Volgens ‘n berig van Taiwan se Sentrale Nuusagentskap het Lin Maandag sy land se parlement ingelig dat hulle gebeurlikheidsplanne opgestel het, insluitend ‘n versoek aan die Suid-Afrikaanse kantoor in Taiwan om uit Taipei te verhuis.
# Die IVP het ‘n beroep gedoen vir dringende optrede om meer Suid-Afrikaners te help met die besit van spaza-winkels om voldoening aan veiligheidstandaarde te verseker en plaaslike sake-eienaarskap ‘n hupstoot te gee. Die partyleier, Velenkosini Hlabisa, het kommer uitgespreek ná ‘n toename in gevalle van voedselvergiftiging in Gauteng, wat na bewering verband hou met produkte wat verval het en in spaza-winkels verkoop word. Volgens Hlabisa bestuur talle ongedokumenteerde buitelanders ondernemings sonder om aan regulasies te voldoen:
# Die gesinne van die veiligheidswagte, Terence Tegg en JJ Cassanga wat deur gewese Clover-werkers vermoor is, het die vonnis wat in die Hooggeregshof in Johannesburg opgelê is, verwelkom. Mohale Shokane en Vusumuzi Duumba is tot lewenslange tronkstraf gevonnis. Hulle is in Februarie 2022 gearresteer nadat ‘n groep mense talle veiligheidswagte buite Clover se fabriek in Olifantsfontein aangeval het. Tegg se verloofde, Michele Bebbington, sê geregtigheid het geskied:
# Die gewese Republikeinse kongreslid, Liz Cheney, het oudpresident Donald Trump as totaal wispelturig en heeltemal onstabiel beskryf. Sy het gister by die visepresident en Demokrate se kandidaat, Kamala Harris, aangesluit by ʼn geleentheid met die titel, Land voor Party, wat in Michigan gehou is. Cheney, bekend vir haar teenstand teen Trump, het Harris vroeër die maand begin ondersteun. Sy sê die keuse in November se verkiesing gaan oor die ondersteuning van die Grondwet:
# Tennis: Topgekeurde Alexander Zverev is deur na die tweede ronde van die Weense Ope nadat hy die Oostenrykse promotorskeuse Joel Schwaerzler verslaan het. Die Duitser wat nou sy beste van 60 toer-seges in ʼn seisoen sedert 2018 geëwenaar het, kom nou óf teen Alex Michelsen óf Marcos Giron van Amerika te staan. Die Italianer Matteo Berrettini het Marton Fucsovics van Hongarye geklop en speel in die tweede ronde óf teen die Amerikaner Frances Tiafoe óf die Brit, Cameron Norrie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-61-sent teen die dollar, 19-rand-6-sent teen die euro en 22-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-362-dollar-76-sent. Die prys van goud is twee-duisend-731-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-8-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….