Nuus 08:00
BULLETIN 13 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Saftu sê die Amerikaanse tariewe gaan die werkloosheidskrisis vererger
# Nersa stel ‘n nuwe prysplafon vir Egoli Gas om verbruikers te beskerm
# En Zelensky sê hy sal nie nog van Oekraïne se grondgebied prysgee in ruil vir ‘n skietstilstand nie
# Die vakbondfederasie, Saftu, waarsku die land se werkloosheidskrisis gaan verder toeneem weens die Amerikaanse tariewe van 30-persent op Suid-Afrikaanse goedere. Die land se amptelike werkloosheidsyfer het vanjaar in die tweede kwartaal met 0,3-persentasiepunte toegeneem tot 33,2-persent. Saftu se woordvoerder, Asive Dyani, sê president Donald Trump se handelsoorlog is nie oor regverdige mededinging nie, maar hy straf Suid-Afrika wat ‘n onafhanklike buitelandse beleid volg:
# Die energiereguleerder, Nersa, het ‘n maksimum gasprys vir Egoli Gas goedgekeur vir die tydperk van Maart vanjaar tot Februarie volgende jaar. Die prys is vasgestel op 151-rand-14 sent per gigawatt-sekonde vir eindgebruikers en 143-rand-58 sent vir herverkopers. Kwartaallikse prysaanpassings sal, gebaseer op verskafferskontrakte, toegelaat word. Nersa se woordvoerder, Charles Hlebela, sê hierdie besluit het ten doel om verbruikers te beskerm en billike mededinging in die gaspyp-mark te bevorder.
# Die Vryheidsfront Plus het gister se gewelddadige betoging wat gelei het tot die brand in die Binnelandse Sake-gebou in Germiston, Ekurhuleni, sterk veroordeel. Twee verdagtes het volgens berigte tydens die betoging ʼn petrolbom in die gebou gegooi wat ontplof en die brand veroorsaak het. Monique Kriek van die VF Plus sê inwoners van die Pharoe Park-woonstelkompleks, wat aan die Ekurhuleni-metro se behuisingsmaatskappy behoort, is volgens berigte verantwoordelik vir die betoging en die brand:
# Oekraïne se president Volodymyr Zelensky sê hy gaan nie instem tot enige Russiese voorstel dat hy meer van sy land se grondgebied moet afstaan in ruil vir ʼn skietstilstand nie. Rusland het verlede week aangedui hy sal ʼn skietstilstand oorweeg indien Oekraïne onttrek uit die dele van Donbas wat hy steeds beheer. Moskou beset die Donbas, wat bestaan uit die oostelike streke Luhansk en Donetsk, gedeeltelik sedert 2014. Zelensky waarsku Rusland wil Donbas in die toekoms gebruik as basis vir aanvalle.
# Gholf: Die wêreld se twee beste spelers, die Amerikaner Scottie Scheffler en Rory McIlroy van Noord-Ierland, speel saam in die eerste twee rondes van die BMW-kampioenskap wat môre in Baltimore, Maryland, afslaan. Die kampioenskap is die PGA-toer se tweede van drie afdelings in die FedEx-beker se uitspeelrondes. Justin Rose wat pas die FedEx St Jude-kampioenskap gewen het, is saam met die Amerikaner, JJ Spaun. Xander Schauffele, ook van Amerika, speel saam met sy landgenoot, Michael Kim, terwyl die Noorweër Viktor Hovland en Amerikaner Akshay Bhatia saam afslaan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-57-sent teen die dollar, 20-rand-53-sent teen die euro en 23-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 119-duisend-339-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-351-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-77-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….