Nuus 08:00
BULLETIN 17 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die reddingsboeie aan staatsondernemings kos belastingbetalers meer as 456-miljard-rand
# Die minister van Landbou sê voedselsekerheid is ‘n kwessie van nasionale veiligheid
# En krieket: Virat Kohli loof AB de Villiers ná sy inlywing in die Heldesaal
# Nasionale Tesourie het onthul reddingsboeie aan kontant-arm staatsondernemings het belastingbetalers die afgelope nege boekjare 456,5-miljard-rand gekos. Dit sal na verwagting teen einde Maart volgende jaar tot 520,6-miljard-rand styg. Eskom het die grootste deel ontvang en sy reddingsboeie sal aan die einde van hierdie boekjaar altesaam 496-miljard-rand beloop. Die Tesourie se hoofdirekteur, Rudzani Mandiwana, sê dit sal tyd neem om die gevolge van bedryf-, onderhoud- en bestuursmislukkings by staatsondernemings wat vir elektrisiteit, spoorweë en hawens verantwoordelik is, om te keer.
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, sê voedselsekerheid is ‘n kwessie van nasionale sekerheid en die regering van nasionale eenheid is daartoe verbind om dit regstreeks aan te spreek. Volgens ʼn onlangse nasionale verslag van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing staar 63,5-persent van Suid-Afrikaanse huishoudings voedselonsekerheid in die gesig. Steenhuisen sê hy sal seker maak die nasionale kos- en voedingsekerheidsplan vir 2024 tot 2029 wat tans hersien word, kry tot die instelling daarvan alle betrokke rolspelers se aandag:
# Die premier van die Oos-Kaap Oscar Mabuyane loof die polisie en die publiek vir hulle deurslaggewende rol in die inhegtenisneming van die verdagtes wat verbind word met verlede maand se moord op 18 mense in Lusikisiki. Drie verdagtes is gisteroggend in KwaZulu-Natal aangekeer. ‘n Vierde verdagte het Dinsdag in die Landdroshof in Lusikisiki verskyn en besluit om nie om borgtog aansoek te doen nie. Die woordvoerder van die provinsiale regering, Khuselwa Rantjie, sê die premier wil geregtigheid sien vir die slagoffers:
# ʼn Lid van die gewese Britse popgroep One Direction, Liam Payne, is dood nadat hy van die derde vloer van ʼn hotel in Buenos Aires in Argentinië geval het. Plaaslike owerhede sê hy het ernstige beserings opgedoen en ʼn lykskouing sal uitgevoer word. Die 31-jarige Payne het in 2010 in The X Factor beroemd geraak saam met sy One Direction-orkeslede Zayn Malik, Louis Tomlinson, Niall Horan en Harry Styles. Hulle het vyf albums vrygestel en vier wêreldtoere onderneem voordat hulle in 2015 op ʼn onbepaalde blaaskans besluit het. Payne het in 2019 sy eerste solo-album bekendgestel.
# Krieket: Die voormalige Indiese kaptein, Virat Kohli, beskryf AB de Villiers as die talentvolste speler saam met wie hy ooit gespeel het. Die voormalige Suid-Afrikaanse kolwer is pas in die sport se heldesaal ingelyf. Hulle het saam vir Royal Challengers Bengaluru in die Indiese Premierliga gespeel. Die Internasionale Krieketraad het Kohli versoek om ʼn brief oor De Villiers te skryf. Hy sê die Suid-Afrikaner, met die bynaam “Mnr 360”, verdien die eer onvoorwaardelik danksy sy impak op die spel, wat volgens hom uniek is.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-65-sent teen die dollar, 19-rand-16-sent teen die euro en 22-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-547-dollar-62-sent. Die prys van goud is twee-duisend-678-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 74-dollar-44-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….