Nuus 08:00
BULLETIN 14 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Patricia De Lille sê Mboweni was ‘n inspirerende leier
# Tshwane versoek verbruikers om water te bespaar om hoër beperkingsvlakke te vermy
# En ‘n gewapende man is naby ‘n Trump-saamtrek in hegtenis geneem
# Die GOOD-party se leier, Patricia de Lille, sê met die dood van die voormalige minister van Finansies en Reserwebank-president, Tito Mboweni, het Suid-Afrika ‘n groot en besielende leier verloor. Hy is Saterdagaand na ʼn kort siekbed in die hospitaal dood. Hy was 65. De Lille sê onder Mboweni se leierskap is die land se begroting goed bestuur tussen ekonomiese oorlewing en die fiskale afgrond:
Die Suid-Afrikaanse Kamer van Handel en Nywerheid sê intussen deur die jare en in verskeie hoëprofiel rolle was Mboweni ‘n man wat deurgaans integriteit en deursigtigheid getoon het. Alan Mukoki van die Kamer sê Mboweni was bekend vir sy skerp intellek en diep begrip van die sake wat sy portefeuljes geraak het, Suid-Afrika en die ekonomie:
# Die Stad Tshwane moedig inwoners aan om daadwerklike pogings aan te wend om waterverbruik te verminder deur te hou by die vlak 1-waterbeperkings. Die woordvoerder van die metro, Selby Bokaba, sê Tshwane ondervind steeds ‘n week-tot-week hoë verbruik van water deur inwoners en ondernemings ondanks die stad se herhaalde versoeke aan klante om water spaarsaam te gebruik. Hy sê dié gedrag plaas geweldige druk op die stad se grootmaatwaterstelsel en kan veroorsaak dat die munisipaliteit se stelsel opdroog en uiteindelik ineenstort:
# ʼn Man wat onwettig in besit was van ʼn haelgeweer, ʼn gelaaide handwapen en ʼn hoëkaliber-magasyn is Saterdag naby oudpresident Donald Trump se saamtrek in Coachella, Kalifornië, gearresteer. Die polisie het die man, wat uitgeken is as die 49-jarige Vem Miller, by ʼn kontrolepunt voorgekeer ʼn uur voordat Trump op die verhoog sou verskyn. Hy is aangekla van twee misdrywe wat wapens betref, en op borgtog vrygelaat. Die Amerikaanse Geheimediens sê die oudpresident was nie in gevaar nie en die voorval het geen uitwerking op die beskermingsoperasie gehad nie.
# Krieket: Die verdedigende kampioen Australië het hulle plek verseker in die halfeindstryd van die Vroue T20 Wêreldbeker met ‘n oorwinning van nege lopies oor Indië in Sharjah. Australië het 151 vir agt aangeteken, met die aanvangskolwer Grace Harris wat uitgeblink het met 40. In antwoord is Indië beperk tot 142 vir nege in hulle 20 beurte. Intussen is Engeland bo-aan Groep B na ‘n indrukwekkende tien-paaltjie oorwinning oor Skotland. Engeland sal kwalifiseer vir die halfeindstryd met ‘n oorwinning oor die Wes-Indiese Eilande in hulle finale groepwedstryd Dinsdag.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-43-sent teen die dollar, 19-rand-5-sent teen die euro en 22-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-307-dollar-90-sent. Die prys van goud is twee-duisend-6656-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 78-dollar-9-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….