Nuus 08:00
BULLETIN 13 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die voormalige minister van Finansies en president van die Reserwebank Tito Mboweni sterf
# Waterbergingsvlakke neem reg oor Gauteng aansienlik af
# En, rugby: Gemengde uitslae vir SA-spanne in VRK-kragmetings
# Die voormalige minister van Finansies en president van die Reserwebank Tito Mboweni is oorlede. Sy familie het laat gisteraand ‘n verklaring uitgereik oor sy dood. Mboweni was 65. Die familie sê dit is met diepe hartseer dat hulle aankondig dat hy oorlede is in ‘n hospitaal in Johannesburg na ‘n kort siekbed. Hy was omring deur sy geliefdes. Mboweni was die eerste swart president van die Rewerbank, as opvolger vir Chris Stals in 1999, en het ‘n dekade lank gedien. Voor dit het hy van 1994 tot 1999 in Nelson Mandela se Kabinet gedien as minister van Arbeid.
President Cyril Ramaphosa het intussen sy droefheid uitgepspreek oor die afsterwe van Mboweni. Die woordvoerder van die president, Vincent Magwenya, sê Mboweni was demokratiese Suid-Afrika se eerste Arbeidsminister van 1994 tot 1999 in die Kabinet van president Nelson Mandela. Hy sê Mboweni het vir ‘n dekade gedien as die President van die Reserwebank vanaf 1999:
# Rand Water sê waterbergingsvlakke regoor Gauteng het aansienlik gedaal weens oormatige wateronttrekkings deur munisipaliteite. Die woordvoerder van Rand Water Makenosi Maroo sê die waternutsmaatskappy het munisipaliteite in Gauteng herhaaldelik gewaarsku oor ‘n moontlike krisis. Sy sê die watervoorsieningstelsels in die provinsie, waaronder Rand Water se reservoirs, is krities laag, en die situasie sal na verwagting vererger in die voortslepende hittegolf. Sy voeg by waterberging kan binnekort uitgeput wees as munisipaliteit nie die aanbevelings instel nie.
# Kamala Harris se dokter het in ‘n brief onthul “sy het die fisiese en geestelike veerkragtigheid” wat nodig is om as president te dien. Die Demokratiese presidensiële kandidaat hoop die brief sal druk op Donald Trump plaas om sy eie mediese toestand vry te stel. Intussen sê die Trump-veldtog in ‘n verklaring sy dokters “het tot die gevolgtrekking gekom hy is in die perfekte en uitstekende gesondheid om die opperbevelhebber te wees”. Volgens die jongste nasionale peilings in Amerika bly Harris ‘n kortkop voor Trump maar die verskil in die deurslaggewende state is uiters klein.
# En, rugby: Die Bulle het gisteraand hulle onoorwonne rekord in hierdie jaar se Verenigde Rugby Kampioenskap behou met ‘n oorwinning van 29-19 oor Ospreys in Swansea. Die Bulle het vroeg oorheers en vier drieë gedruk vir ‘n bonuspunt, maar toe begin sukkel toe swak disspline hulle tot 13 spelers beperk het. In die ander twee wegwedstryde is die Haaie sleg geklop deur Benetton, en het met 38-10 verloor. En die Stormers moes met 38-7 die knie buig teen Edinburgh. Die Leeus speel vanmiddag om half-vier teen die Dragons in Wallis.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….