Nuus 08:00
BULLETIN 10 Oktober 10 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Outa sê die regering moet ingryp oor brandstofbelasting
# Die Vereniging van Vleisinvoerders en -uitvoerders waarsku teen invoervertragings
# En Orkaan Milton bereik Siesta Key in Florida
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê die regering moet meer doen en minder praat oor die verlaging van brandstofheffings. Die minister van Minerale en Petroleumhulpbronne, Gwede Mantashe, sê besprekings oor die verlaging van brandstofpryse tussen sy departement en Nasionale Tesourie gaan voort. Dit sluit in die verlaging van brandstofbelastings, wat die prys by die pomp tot meer as 20-rand opstoot. Outa se uitvoerende hoof, Wayne Duvenage, sê die verlaging beteken nie net dat twee brandstofheffings geskrap word nie:
# Die Vereniging van Vleisinvoerders en -uitvoerders is besorg oor aansienlike vertragings met die uitreiking van vleisinvoerpermitte, wat deesdae ongeveer nege dae duur pleks van 48 uur. AMIE blameer nuwe regulasies deur die Grensbestuursagentskap en eis onmiddellike regeringsingryping om ontwrigtings in die voorsieningsketting vir voedsel te vermy. Volgens die vereniging verhoog hierdie vertragings die koste, veral by die Durbanse hawe, en kan voedselinflasie vererger, veral vir bekostigbare proteïenprodukte.
# Tshwane se voormalige burgemeester, Cilliers Brink, sê die DA sal saam met partye werk wat soos hulle dink om te keer dat die ANC en EFF die afgelope 18 maande se vordering ongedaan maak. Hy is verlede maand na ‘n mosie van wantroue uit die kussings gelig. Nasiphi Moya van ActionSA is as burgemeester verkies. Sy het gister by ʼn raadsvergadering 122 stemme gekry en Brink 86. Brink sê die DA sal ʼn doeltreffende opposisie in die metro wees:
# Amerika se nasionale orkaansentrum sê Orkaan Milton het die land naby Siesta Key in Florida bereik as ʼn gevaarlike kategorie drie-storm. Die orkaan het windsterktes van meer as 190 kilometer per uur. Milton is die vyfde orkaan wat Amerika vanjaar tref. Die sentrum sê die storm sal na verwagting aansienlik afneem wanneer dit oor land beweeg, maar daar is tans waarskuwings uit vir lewensgevaarlike storm-stuwings, wind en oorstromings. President Joe Biden sê dis nou moeilik om te ontruim:
# Krieket: Indië het hul grootste oorwinning nóg by ʼn T20-wêreldbeker vir vroue behaal toe hulle Sri Lanka met 82 lopies verpletter en uitgeskakel het by die toernooi in Dubai. Aanvangskolwer Smriti Mandhana en kaptein Harmanpreet Kaur het vyftigtalle behaal en Indië het 172 vir drie op die telbord geplaas. Dis tot dusver die toernooi se hoogste span-totaal. Sri Lanka is daarna vir 90 uitgehaal en sluit by Skotland aan as die tweede span om by die Wêreldbeker uitgeskakel te word. Indië en die verdedigende kampioene van Australië sal sake uitspook vir ʼn plek in die halfeindronde.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-88-sent teen die dollar, 19-rand-74-sent teen die euro en 22-rand-37-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-942-dollar-96-sent. Die prys van goud is twee-duisend-643-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-71-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….