Nuus 08:00
BULLETIN 12 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party sluit aan by toenemende druk dat minister McKenzie afgedank moet word
# Dokters Sonder Grense is bekommerd oor die weiering van gesondheidsdienste aan buitelandse burgers
# En Donald Trump plaas die Washington-polisie onder federale beheer
# Die MK-party doen ‘n beroep dat Gayton McKenzie as minister van Sport, Kuns en Kultuur verwyder word. Plasings op sosiale media van meer as ʼn dekade gelede word aangehaal waarin McKenzie na bewering neerhalend van swart mense praat. Die minister hou vol die rassistiese plasings is met kunsmatige intelligensie geskep en nie sy eie woorde nie. Die MK-party sê Suid-Afrika kan nie ʼn regering bekostig wat blykbaar misdadigers se belange of rassistiese agendas bevorder nie.
# Dokters Sonder Grense sê hy is bekommerd oor die aanhoudende en stelselmatige fisiese blokkering van buitelanders se toegang tot gesondheidsorg, veral in Gauteng en KwaZulu-Natal. Lede van Operation Dudula het die afgelope paar maande buitelanders verhoed om behandeling by staatsgeriewe te ontvang. Claire Waterhouse van Dokters Sonder Grense het aan Newzroom Afrika gesê teen-immigrante groepe word by die ingange of binne gesondheidsorgfasiltieite gestasioneer en hulle eis dan identifikasie van elke persoon wat probeer om in te gaan en wys diegene weg wat hulle dink nie-Suid-Afrikaners is:
# Suid-Afrika ondersteun ‘n wetlik-bindende wêreldwye verdrag om plastiek deur die totale lewensiklus van die produk te verminder. Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, lei ‘n Suid-Afrikaanse afvaardiging na die tweede deel van die vyfde Inter-regering Onderhandelingskomitee oor plastiekbesoedeling in Genève. Die verdrag probeer om klimaat- en biodiversiteitsdoelwitte te belyn terwyl dit globale samewerking en volhoubaarheid bevorder. Die minister beklemtoon dat dringende optrede nodig is omdat plastiekbesoedeling gemeenskappe, ekonomieë en ekostelsels bedreig.
# President Donald Trump van Amerika het Washington DC se polisiedepartement onder regstreekse federale beheer geplaas en soldate van die Nasionale Wag na die land se hoofstad ontplooi. Hy sê dis om orde in die stad te herstel en beskryf dit as een van die wêreld se gevaarlikste stede. Dit is ondanks die feit dat geweldsmisdaad in Washington sedert 2023 skerp afgeneem het. Trump, wat ʼn noodtoestand oor openbare veiligheid afgekondig het, sê die situasie in die stad is een van totale wetteloosheid:
# Tennis: Die verdedigende kampioen, Aryna Sabalenka van Belarus, het die Brit, Emma Raducanu, naelskraaps geklop om die Cincinnati Ope se vierde ronde te haal. Die wêreld-nommer-vier takel Jessica Bouzas Maneiro in die ronde van 16 nadat die Spanjaard die Amerikaner, Taylor Townsend, verslaan het. Iga Swiatek van Pole het die ronde van 16 gemaklik gehaal. In die mansafdeling het die Amerikaner, Taylor Fritz, met Lorenzo Sonego van Italië afgereken. Die Griek, Stefanos Tsitsipas, moes die knie buig teen Benjamin Bonzi van Frankryk.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-72-sent teen die dollar, 20-rand-59-sent teen die euro en 23-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-967-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-351-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….