Nuus 08:00
BULLETIN 7 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party kanselleer sy beplande staking by die Regterlike Dienskommissie
# Oorsigbesoeke deur die EFF toon uitdagings by polisiestasies en in gesondheidsorg
# En ‘n noodtoestand word in Florida afgekondig
# Die MK-party sê hy is vasbeslote om alle regs-oplossings te ondersoek en het dus besluit om sy beplande plakkaatbetoging tydens die Regterlike Dienskommissie se sitting af te stel. Die Hooggeregshof in Johannesburg het die party se aansoek verwerp dat die sitting gestaak word nadat die party se parlementêre leier, John Hlophe, verbied is om deel te neem. Die kommissie sal van vandag af tot volgende Woensdag met meer as 50 regter-kandidate onderhoude voer om verskeie vakatures te vul. Die MK-party se woordvoerder, Nhlamulo Ndhlela, het aan Newzroom Afrika gesê dis jammer die onderhoude gaan voort:
# Die EFF sê sy Parlementslede het 170 intensiewe oorsigbesoeke gedoen in verskeie gemeenskappe, by skole, hospitale, onvoltooide infrastruktuurprojekte en talle diensleweringspersele. Dit is gedoen tydens die Parlement se kiesafdelingsperiode. Die party sê polisiekantore sukkel met uitdagings soos begrotingsbesnoeiings, te min personeel, swak infrastruktuur en korrupsie. Die EFF hou vol die land se openbare gesondheidstelsel het ineengestort. Hy is ook bekommerd oor die kommerwekkende aantal projekte wat laat vaar en onvoltooi is.
# Die Gautengse regering sê 21 provinsiale departemente en instellings het in die 2023/2024-boekjaar skoon ouditmenings ontvang wat ‘n verbintenis tot goeie regering en finansiële aanspreeklikheid toon. Dit sluit die premier se kantoor, die Onderwysdepartement, Gautrein-bestuursagentskap en provinsiale Tesourie in. Elf departemente en instellings het ongekwalifiseerde ouditmenings ontvang. Die provinsiale regering sê streng fiskale beheer sal regering verbeter en meer hulpbronne beskikbaar stel vir die lewering van noodsaaklike dienste.
# ʼn Noodtoestand is in dele van Florida afgekondig terwyl die tropiese storm Milton tot ʼn kategorie een-orkaan versterk het. Dit volg dae nadat Orkaan Helene in verskeie state soos Florida, Georgia en Noord-Carolina verwoesting gesaai en minstens 225 lewens geëis het. Florida se goewerneur, Ron DeSantis, sê hy het alle rampbestuursentrums opdrag gegee om oop te bly terwyl die staat die puin opruim ná Orkaan Helene:
# Gholf: Tyrrell Hatton van Engeland het sy rekord verbeter met ʼn derde Alfred Dunhill Links-kampioenskapstitel by St Andrews in Skotland toe hy die Belg, Nicolas Colsaerts, met een hou geklop het. Hatton se landgenoot, Tommy Fleetwood, was derde op 21 onder. Die 23-jarige nuweling van Suid-Afrika, Robin Williams, was gelykop vierde saam met die Deen, Rasmus Neergaard-Petersen en David Puig van Spanje. Hatton se sege verseker sy plek in die DP World-toerseisoen se laaste geleentheid in Dubai.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-46-sent teen die dollar, 19-rand-17-sent teen die euro en 22-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-630-dollar-74-sent. Die prys van goud is twee-duisend-644-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….