Nuus 08:00
BULLETIN 6 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die RDK-onderhoude gaan voort na MK se mislukte poging om dit stop te sit
# Die Suid-Afrikaanse Polisie-unie vra versterkte misdaad-intelligensie na die Lusikisiki-massamoord
# En, sokker: Orlando Pirates palm ‘n geskiedkundige derde MTN8-titel in
# Die Regterlike Dienskommissie se geskeduleerde onderhoude sal soos beplan dié week voortgesit word. Die Hooggeregshof in Johannesburg het gister ‘n poging op die nippertjie deur die MK-party en sy parlementêre leier, die afgedankte voormalige regter-president John Hlophe, om die onderhoude stop te sit van die hand gewys. ‘n Volle bank van die Hooggeregshof in die Wes-Kaap het verlede week Hlophe verbied om deel te neem aan enige bedrywighede van die RDK. Die onderhoude sal na verwagting môre begin, met 55 kandidate wat meeding om 27 vakante poste, wat die een insluit wat Hlophe voorheen beklee het.
# Die Suid-Afrikaanse Polisie-unie vra versterkte misdaad-intelligensie in landelike gemeenskappe na die moord verlede naweek op 18 mense in Lusikisiki in die Oos-Kaap. Die woordvoerder van SAPU Lesiba Thobakgale beklemtoon die behoefte aan proaktiewe polisiëring om massamoorde en ander misdade te voorkom. Hy vra ook ‘n groter polisieteenwoordigheid in brandpunte en sterker intelligensiepogings landwyd:
# Die menseregte-aktivis en regter Albie Sachs sê die regering van nasionale eenheid bemagtig Suid-Afrikaners. Sachs sê dit is van deurslaggewende belang om die Grondwet behoorlik te implementeer. Hy sê hy bly ongelukkig oor die probleme waarmee die land te doen het en hoe die meerderheid van Suid-Afrikaners steeds leef. Sachs het aan die SABC gesê die Grondwet is die hoeksteen van Suid-Afrika se demokrasie:
# Hizbollah het kontak verloor met ‘n moontlike opvolger van sy ontslape leier Hassan Nasrallah. ‘n Libanese sekerheidsbron het aan CNN gesê die groep het nie weer van Hashem Safieddine gehoor nie sedert ‘n Israelse aanval op Beiroet hom Vrydag geteiken het. Safieddine het gedien as hoof van Hizbollah se uitvoerende raad en is beskou as die waarskynlikste bekleër van die organisasie se hoogste rang. Hy is ‘n neef van Nasrallah en hulle het saam in Iran studeer. Amerika het Hizbollah in 1997 tot buitelandse terroriste-organisasie verklaar, en Safieddine in 2017 tot ‘n buitelandse terroris.
# En, sokker: Orlando Pirates is vir ‘n geskiedkundige derde agtereenvolgende jaar as die MTN8-kampioene gekroon nadat hulle teruggeveg het in die Moses Mabhida-stadion in Durban en Stellenbosch 3-1 geklop het. Bradley Mojela se doel het Stellies laat juig, maar Jose Riveiro se span het net voor rustyd sake gelykop gemaak toe Monnapule Saleng ingeskop het. Dit het gelyk of bykomende tyd nodig sou wees maar Tshegofatso Mabasa was in die 91ste minuut suksesvol en Relebohile Mofokeng, vyf minute later ook. Die Spaanse afrigter Riveiro spog nou met ‘n indrukwekkende vyf bekers by die Buccaneers – drie MTN8-titels en twee Nedbankbekers.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….