Nuus 08:00
BULLETIN 3 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Tesourie se hulp word ingeroep om privaat vennote vir die Poskantoor te vind
# Die voormalige Tshwane-burgemeester Randall Williams kritiseer Cilliers Brink
# En ten minste ses word gedood in ‘n Israelse lugaanval in Sentraal-Beiroet
# Die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë, Solly Malatsi, sê sy doel is om die Suid-Afrikaanse Poskantoor se bedrywighede te moderniseer, en vernuwing en mededingendheid te bevorder. Die minister het die Nasionale Tesourie se ondersteuning gevra om privaat vennote te kry vir die Poskantoor, wat ‘n kontantinspuiting van 3,8-miljard-rand nodig het. Hy het die afgelope tien jaar reddingsboeie van 10,4-miljard-rand ontvang. Malatsi sê hy is daartoe verbind om binne redelike grense alles moontlik te doen om die Poskantoor finansieel volhoubaar te maak:
# Die geskorste Openbare Beskermer Busisiwe Mkhwebane is teleurgesteld dat sy haar appèl verloor het teen ‘n besluit oor haar Afdeling 194-ondersoek na haar ampsklag. Die Appèlhof het haar appèl teen die Hooggeregshof in die Wes-Kaap se verwerping van ‘n aansoek om die verwydering van die voorsitter van die ondersoek, Qubudile Dyantyi, en DA-lid Kevin Mileham, met koste van die rol geskrap. Mkhwebane sê die Appèlhof se besluit is nie het ‘n terugslag vir haar nie, maar vir almal wat geglo het in haar rol as die beskermer van die regte van die publiek en aanspreeklikheid.
# Tshwane se gewese burgemeester, Randall Williams, het die afgesette burgemeester, Cilliers Brink, gekritiseer omdat hy na bewering die eer inoes vir werk wat sy voorgangers gedoen het. Brink, wat verlede Donderdag na ʼn mosie van wantroue verwyder is, het altyd beweer die metro is beter af onder die koalisieregering. Williams sê Brink word voorgehou as Tshwane se messias, terwyl hý aanspreeklik gehou word vir die finansiële gemors waarin die metro is:
# ʼn Israelse aanval op ʼn mediese fasiliteit in sentraal-Beiroet in Libanon, het tot ses sterftes gelei en sewe mense is beseer. Die mediese sentrum behoort aan die Hizbollah-verwante Islamitiese Gesondheidsorganisasie. Dis die eerste Israelse aanval op die hart van die hoofstad sedert die volskaalse oorlog tussen Israel en Libanon in 2006. Israelse aanvalle is ook in Sirië aangemeld waar drie dood is, en in Gaza waar agt sterfgevalle was. Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres, veroordeel die verskerping van die Midde-Oosterse konflik:
# Gholf: Die Brit, Matt Fitzpatrick, hoop om sy Alfred Dunhill Links-kampioenskapstitel suksesvol te verdedig in ʼn poging om die DP World-toer se uitspeelwedstryde te haal. Die 30-jarige Fitzpatrick wil probeer om slegs die tweede speler naas sy landgenoot Tyrrell Hatton te word wat die titel in agtereenvolgende seisoene in Skotland kan wen. Spelers soos Jon Rahm, die Amerikaanse paar Brooks Koepka en Patrick Reed, en Thriston Lawrence neem ook deel. Laasgenoemde lei ʼn sterk Suid-Afrikaanse groep met onder andere George Coetzee en Branden Grace.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-39-sent teen die dollar, 19-rand-19-sent teen die euro en 23-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-272-dollar-73-sent. Die prys van goud is twee-duisend-653-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-58-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….