Nuus 08:00
BULLETIN 11 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC Integriteitskommissie spreek Paul Mashatile vry
# COPE stel ‘n tussentydse leier aan met Lekota wat terugtree
# En die VSA verdedig Israel by VN-Veiligheidsraadvergadering
# Die ANC-integriteitskommissie het volgens berigte adjunkpresident Paul Mashatile van blaam onthef wat sy luukse wonings Waterfall in Gauteng en Constantia in Kaapstad betref. Mashatile het onderdruk gekom nadat hy twee luukse eiendomme van sowat 65-miljoen-rand verklaar het. Hy het vroeër ontken dat hy die eienaar is, en aangevoer die huis in Constantia behoort aan sy skoonseun. Hy hou vol daar is niks onregmatig aan die eiendomme nie. Die integriteitskommissie het aanbeveel Mashatile moet die staatshuise gebruik wat in Gauteng en die Wes-Kaap vir hom beskikbaar is.
# COPE het Teboho Loate as tussentydse leier aangestel tot die Verkiesingskongres in Desember. Die party se president, Mosiuoa Lekota, het uit politiek getree om op sy gesondheid te fokus. COPE het sy nasionale komiteevergadering die naweek in Gauteng gehou. Loate sê onder die huidige regering van nasionale eenheid het die ANC die staat verswak en openbare vertroue vernietig. Hy sê hulle wil ‘n ware alternatief bied wat mense eerste stel:
# Die voorspraakbeweging Soil of Africa gaan vandag na die munisipale kantore van Mamelodi opruk om te betoog teen die voortslepende waterkrisis in dele van die Stad Tshwane. Die metro se verouderde waterinfrastruktuur, gekombineer met hoë waterverbruik, dra tot die probleme by. Die voorsitter van die beweging, Bongani Ramontja, sê die waterkrisis is ‘n teken van swak regering en die totale ineenstorting van dienslewering:
# Amerika se ambassadeur by die Verenigde Nasies se veiligheidsraad, Dorothy Shea, het Israel verdedig en sê dié land het die reg om te besluit wat die beste is vir sy veiligheid en sy burgers. Die veiligheidsraad het Sondag ʼn noodvergadering gehou terwyl teenkanting toeneem oor Israel se plan om Gazastad oor te neem en byna ʼn miljoen Palestyne te verplaas. Shea sê Amerika werk onverpoosd om die gyselaars te bevry, die oorlog te beëindig en burgerlikes in Gaza ʼn toekoms sonder Hamas te bied:
# Gholf: Die Suid-Afrikaner Dean Burmester het sy tweede individuele LIV-gholftitel gewen nadat hy die Spanjaarde, Jon Rahm en Josele Ballester, in Chigaco op die eerste uitspeelputjie verslaan het. Burmester het sy aanvanklike voorsprong van twee houe verloor met drie agtereenvolgende houe oor baansyfer, maar het uiteindelik op nege onder 204 klaargemaak. Daar was ook ʼn uitspeelstryd tussen spanne waar Burmester se Stinger-span met Torque afgereken het om die titel te buit. Burmester, wat prysgeld van 71-miljoen-rand in sy sak steek, sê die oorwinning is spesiaal:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-71-sent teen die dollar, 20-rand-67-sent teen die euro en 23-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 121-duisend-893dollar. Die prys van goud is drie-duisend-379-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-97-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….