Nuus 08:00
BULLETIN 26 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA vra vir ‘n bestedingsoorsig om die finansiële krisis in Basiese Onderwys aan te spreek
# Drie vermeende afpersers word doodgeskiet en vier ander in hegtenis geneem
# En netbal: Die Mans Nasionale Netbalkampioenskappe begin vandag
# Die DA sê hy is bekommerd oor die finansiële krisis wat die onderwyssektor teister. Hy sê dit bedreig nie net kinders se toekoms nie, maar is ‘n simptoom van groter finansiële wanbestuur oral in die regering. Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, het onthul die departement is opgesaal met begrotingsdruk van ʼn geraamde 79-miljard-rand oor die medium termyn wat tot meer as 118-miljard-rand kan styg. Mark Burke van die DA sê elke regeringsprogram se besteding moet omvattend hersien word:
# Die ANC se alliansievennote doen ‘n beroep op president Cyril Ramaphosa om die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, af te dank. Dit is vir haar versuim om die ondertekening van die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette vroeër die maand by te woon. Gwarube het ‘n paar uur voor die ondertekeningseremonie ‘n verklaring uitgereik wat sê sy het Ramaphosa skriftelik in kennis gestel sy kan nie die seremonie bywoon tot haar kommer oor die Bela-wet aangespreek is nie. Die hoofsekretaris van die SAKP, Solly Mapaila, sê die minister het die president ondermyn en daar moet teen haar opgetree word.
# Wes-Kaapse polisie het drie vermeende afpersers doodgeskiet en vier ander in Bothasig gearresteer. Die polisie het ʼn wenk gekry dat sewe insittendes van ʼn minibustaxi omkoopgeld by winkeleienaars in Du Noon eis. Die polisie het hulle agternagesit en in Bosmansdamweg het die groep op die polisie se voertuie losgebrand, en hulle het teruggeskiet. ʼn Polisiewoordvoerder, Bongani Maqashalala, sê hulle het in die taxi beslag gelê op ʼn aanvalsgeweer, ʼn pistool en ʼn onbekende bedrag geld:
# Amerika en Frankryk werk saam om dringend ʼn tydelike skietstilstand van 21 dae te bewerkstellig tussen Libanese Hisbolla-militante en Israel in Libanon. Sedert Maandag is meer as 600 mense in Israelse lugaanvalle dood en duisende is ontheem. Frankryk se minister van Buitelandse Sake, Jean-Noël Barrot, sê ʼn diplomatieke oplossing is moontlik. Intussen sê Israel se ambassadeur by die Verenigde Nasies, Danny Danon, indien Hisbolla ophou om vuurpyle op Israel af te vuur, sal daar geen wraakaanvalle wees nie:
# Netbal: Netbal Suid-Afrika bied van vandag af die grootste Nasionale Netbalkampioenskap vir mans aan by die Ellispark-buitelugbane in Johannesburg. Die eindwedstryd vind volgende Maandag plaas. Die toernooi sluit 67 spanne in wat meeding in Senior A-, B- en Onder 23-afdelings. Ekurhuleni is die huidige verdedigende kampioen. Spelers sal tydens die toernooi gekeur word om deel te neem aan proewe vir die nasionale span. Netbal Suid-Afrika se president Cecilia Molokwane sê die rekord-deelname is ʼn teken van die sport se toenemende gewildheid.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-22-sent teen die dollar, 19-rand-20-sent teen die euro en 22-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-440-dollar-59-sent. Die prys van goud is twee-duisend-661-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-71-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….