Nuus 08:00
BULLETIN 25 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom sê sy aansoek by Nersa is gebaseer op wat dit sal kos om doeltreffende elektrisiteit te verskaf
# Die SANW staar burgerlike eise van meer as R600-miljoen in die gesig weens soldate se wangedrag
# Biden sê ‘n diplomatieke oplossing is moontlik vir konflik in Midde-Ooste
# Eskom sê hy sal voortgaan om betroubare elektrisiteitsdienste te verskaf terwyl hy sy finansiële volhoubaarheid verbeter deur pryse wat koste weerspieël. Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika het die kragverskaffer se omstrede inkomste-aansoek vir jaarlikse prysverhogings tot 2028 gepubliseer. Eskom se aansoek behels ‘n 36,15-persent verhoging in die 2026-boekjaar; 11,81-persent in 2027; en 9,10-persent in 2028. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê die inkomste-aansoek is gebaseer op wat dit sal kos om elektrisiteit doeltreffend aan klante te verskaf:
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag staar eise van meer as 600-miljoen-rand in die gesig weens soldate se onwettige optrede. Die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Angie Motshekga, het onthul die 155 eise hou hoofsaaklik verband met onregmatige aanrandings, inhegtenisnemings en aanhouding tydens operasies. Die weermag wat reeds met begrotingstekorte sit, het nie fondse vir hierdie eise toegeken nie. Kenners waarsku die situasie dui op ernstige probleme in die SANW. Dit sluit dissipline-kwessies en die misbruik van militêre magte vir polisiëring in. Die eise is steeds onopgelos en voor die hof.
# Amerika se president Joe Biden vra ʼn einde aan konflik in die Midde-Ooste en sê ʼn volskaalse oorlog is in niemand se belang nie. Hy het gister sy laaste toespraak by die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering in New York gelewer. Biden het Hamas veroordeel vir sy dodelike aanval op Israel op 7 Oktober, maar ook simpatie uitgespreek vir die mense wat ly onder Israelse operasies in Gaza. Hy sê hy glo ʼn diplomatieke oplossing is steeds moontlik:
# Sokker: Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, het ʼn voorlopige span van 32 bekendgemaak vir volgende maand se kwalifiseerwedstryde vir die 2025-Afrikanasiesbeker teen die Kongo. Dit sluit in kaptein Ronwen Williams wat terugkeer ná ʼn skouerbesering, Orlando Pirates se doelskopper Tshegofatso Mabasa, en Bradley Cross van Kaizer Chiefs. Suid-Afrika en Uganda is gelykop met vier punte elk in Groep K, maar Uganda het ʼn beter doelverskil. Broos sal die groep na verwagting teen volgende week tot 23 spelers verminder.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-31-sent teen die dollar, 19-rand-39-sent teen die euro en 23-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-259-dollar-90-sent. Die prys van goud is twee-duisend-663-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-90-sent per vat.
# En ter afsluiting, die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Angie Motshekga, en die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton Mackenzie, ontvang vandag die stoflike oorskot van vryheidshelde wat in Zimbabwe en Zambië dood is. Die geleentheid vind by die Waterkloof-lugmagbasis plaas. ʼn Tuiskoms-seremonie word Vrydag by Vryheidspark in Tshwane gehou. Adjunkpresident Paul Mashatile sê die oorskot sluit dié van Duma Nokwe, Florence Mophosho en Basil February in:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….