Nuus 08:00
BULLETIN 23 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa moedig wêreldleiers aan om hul uitdagings en bedreigings die hoof te bied
# Nog ‘n vermeende dwelmmuil word by OR Tambo gearresteer
# En die EFF wil ‘n ondersoek hê na die dood van die twee mense wat in die sneeu vasgeval het
# President Cyril Ramaphosa waarsku wêreldleiers om wêreldwye probleme soos armoede, ontwikkelende konflik en krisisse in openbare gesondheid te takel en te oorwin. Hy het Suid-Afrika se verklaring by die Toekomsberaad gelewer wat tans in New York aangebied word. Dit is waar die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering die Toekomsverdrag aanvaar het. Ramaphosa sê die verdrag is ‘n geleentheid om die multilaterale stelsel te verander en te hernu om die wêreld se uitdagings te hanteer:
# Die DA sê die volgehoue flaters van die departement van Openbare Werke en Infrastruktuur het die publiek se vertroue weggekalwe en dienslewering geknou. Dit volg op die Ouditeur-generaal se departementele verslag vir die 2022/2023-boekjaar. Luidens die verslag het ongemagtigde besteding die hoogte in geskiet van 98-miljoen-rand in 2020/2021 tot 521-miljoen-rand in 2022/2023, terwyl finansiële verliese 746-miljoen-rand beloop en ‘n agterstand met 107 infrastruktuurprojekte bestaan. Die DA sê hy gaan die Parlement versoek vir ‘n omvattende strategie.
# ʼn Dertigjarige Namibiese vroulike vermeende dwelmmuil is gister by die OR Tambo Internasionale Lughawe in hegtenis geneem. Sy het van Sao Paulo, Brasilië, teruggekeer. Dis die tiende dwelmmuil wat die afgelope twee maande by die lughawe aangekeer word. Die nasionale polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê die vrou is voorgekeer toe sy deur immigrasie gaan. Mathe sê sy is onmiddellik gearresteer en na ʼn plaaslike hospitaal geneem. Daar het ʼn mediese x-straal verpakte kokaïen in haar maag opgemerk en bevestig:
# Die EFF in KwaZulu-Natal sê ten spyte van herhaalde waarskuwings oor gure weerstoestande was die provinsiale regering nie voorbereid nie. Twee mense is dood nadat hulle op die N3 in die Middellande in sneeu vasgekeer was. Albei het verkluim. Die EFF sê die tragedie is die gevolg van die provinsiale regering se nalatigheid. Hy sê hy gaan aan die premier skryf en ʼn omvattende verslag eis oor die hantering van die ramp.
# Motorsport: McLaren-renjaer Lando Norris het die Singapoer Grand Prix gewen en spog met sy derde sege hierdie seisoen. Die Brit het 20 sekondes voor die wêreldkampioenskap-voorloper, Max Verstappen, klaargemaak en die titelstryd-agterstand tot 52 punte verminder met ses wedrenne wat oorbly. Oscar Piastri was derde met McLaren wat hulle voorsprong bo Red Bull in die vervaardigerskampioenskap vergroot het. George Russell van Mercedes was vierde en Charles Leclerc van Ferrari vyfde. Norris sê dit was ʼn uitmergelende wedren:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-39-sent teen die dollar, 19-rand-42-sent teen die euro en 23-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-281-dollar-71-sent. Die prys van goud is twee-duisend-627-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….