Nuus 08:00
BULLETIN 17 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente veroorsaak die gebrek aan bestendigheid by universiteite
# Die DA in Tshwane beloof om die vordering wat die koalisieregering gemaak het te bewaar
# En die VN waarsku dat sy humanitêre hulpdoelwitte in Gaza nie gehaal word nie
# Die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding sê die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente is die hoofoorsaak van onstabiliteit by hoëronderwys-instellings. Dis onthul tydens uitgebreide samesprekings met verskillende rolspelers, insluitend studenteliggame. Minister Nobuhle Nkabane sê die departement hersien die skema se befondsingsmodel om sy stelsels te verbeter en probleme uit te skakel. Sy sê aanlyn aansoeke vir 2025 kan van Vrydag af ingedien word:
# Die DA in Tshwane sê hy sal die vordering wat saam met koalisievennote in die metro bereik is, bewaar. Dit volg nadat ActionSA gister aangekondig het hy verlaat die DA-geleide koalisieregering in Tshwane, ná beraadslaging met die ANC om die hoofstad oor te neem. ‘n DA-woordvoerder, Willie Aucamp, sê dis duidelik dat ActionSA se besluit niks met dienslewering, die inwoners of die metro se toekoms te doen het nie:
# Business Leadership South Africa sê hy is bemoedig deur die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, se voorneme om die leierskap in die departement en talle ander instellings onder sy beheer, te hersien. Die minister het planne om die rade van elf uit 18 instellings te verander om bestendigheid en doeltreffendheid te verbeter. Dit sluit die Mededingingskommissie en Nasionale Bemagtigingsfonds in. BLSA se uitvoerende hoof, Busiswe Mavuso, sê al die instellings kan ekonomiese aktiwiteite bevorder indien dit optimaal funksioneer.
# Die Verenigde Nasies waarsku daar word te min vordering gemaak om noodsaaklike hulp en handelsgoedere in Gaza te lewer. Sowat 300-duisend mense gaan gebuk onder ernstige tekorte aan kos, water en ander benodigdhede. Sedert Mei is klaring vir 229 besendings versoek. Hiervan is 175 goedgekeur, 101 is afgelewer, 17 wag op klaring en 37 is van die hand gewys. ʼn VN-woordvoerder, Sigrid Kaag, sê ʼn mensgemaakte humanitêre krisis het Gaza in ʼn probleemgebied verander:
# Sokker: Daar is toenemend gissinge dat Benni McCarthy en Mamelodi Sundowns gesprekke voer oor sy beskikbaarheid as afrigter. Die voormalige doelskieter van Bafana Bafana het sy pos as afrigter van Manchester United se eerste span aan die einde van die seisoen opgegee en is na berig word gretig om terug te keer na Afrika om ʼn groot span af te rig. Te midde van die gerugte is Sundowns vasbeslote om die verdediging van hulle Premierliga-titel vanaand met ʼn oorwinning oor SuperSport United op Loftus Versfeld te begin.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-69-sent teen die dollar, 19-rand-61-sent teen die euro en 23-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-en 89-dollar-10-sent. Die prys van goud is twee-duisend-579-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-6-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….