Nuus 08:00
BULLETIN 16 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA soek antwoorde by minister De Lille oor die Toerismeraad
# Biden is verlig dat Trump ongedeerd is
# En Tennis: Die agt spanne wat aan die Davisbeker-eindstryd gaan deelneem, is bevestig
# Die DA sê die minister van Toerisme, Patricia de Lille, moet voor die Parlement verskyn om die verwydering van belangrike SA Toerisme-raadslede te verduidelik. Die minister het die raadsvoorsitter, Makhosazana Khanyile, en haar adjunk Lizelle Dominique Jordaan verwyder weens onverklaarde vergaderings van 900-duisend-rand wat in die eerste kwartaal vanjaar gehou is. Haseena Ismail van die DA sê hulle doen ‘n beroep op die raad en die minister om saam te werk om stabiliteit in die instelling te herstel:
# Die minister van Hoër Onderwys Nobuhle Nkabane open vandag amptelik die aansoeke vir die Finansiële Hulpskema vir Studente vir die 2025 akademiese jaar. Die mediakonferensie sal verbeterings uiteensit en studente inlig oor hoe om aansoek te doen. Die skema het bevestig hy het sy aansoekproses verbeter vir ‘n vaartbelynde proses. Regstreekse aktivering sal ook by skole in al nege provinsies gedoen word, wat leerders en jongmense wat nie meer op skool is nie met hulle aansoeke te help.
# Gauteng se LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, sê sy departement sal oplossings vind om te keer dat onderwysers hul werk verloor te midde van begrotingbesnoeiings. Die Wes-Kaapse regering het onder skoot gekom nadat hy bevestig het meer as twee-duisend onderwysposte gaan volgende jaar gesny word weens ʼn begrotingstekort van 3,8-miljard-rand oor die volgende drie jaar. Chiloane sê sy departement oorweeg om in die medium termyn tot 4,5-miljard-rand op sekere programme te besnoei:
# Amerika se president Joe Biden sê hy is verlig oudpresident Donald Trump is ongedeerd terwyl die FBI ʼn moontlike sluipmoordpoging op hom ondersoek. ʼn Lid van die Geheime Diens het ʼn AK-47-tipe wapen sien uitsteek by bosse langs Trump se Florida-gholfbaan terwyl die voormalige president daar gholf gespeel het. Die verdagte wat as Ryan Wesley Routh geïdentifiseer is, is aangekeer. Biden sê daar is geen plek vir politieke geweld nie en het sy span opdrag gegee om seker te maak Trump het alle nodige hulpbronne om hom te beskerm.
# Tennis: Denis Shapovalov en Felix Auger-Aliassime het die 2022-kampioene, Kanada, se plek bespreek by vanjaar se Davisbeker-finaal wat in November in Malaga plaasvind. Shapovalov het Daniel Evans verslaan om Kanada ʼn een-nul-voorsprong te gee in Groep D. Auger-Aliassime het die Amerikaanse Ope-semifinalis, Jack Draper geklop. Die Britte het die finaal-dubbelspel gewen om dit twee-een te maak, maar dit was nie genoeg om hulle na die eindronde te laat deurdring nie. Ander lande wat die finaal gehaal het, is die heersende kampioene Italië, Spanje, Amerika, Nederland, Duitsland, Australië en Argentinië.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-69-sent teen die dollar, 19-rand-63-sent teen die euro en 23-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-390-dollar-30-sent. Die prys van goud is twee-duisend-586-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-72-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….