Nuus 08:00
BULLETIN 15 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Mashatile herstel na ‘n ineenstorting by ‘n viering in Limpopo
# ‘n Nigeriese smokkelaar is by OR Tambo aangekeer met dwelms in oorfone
# En, rugby: Die Haaie is in die Curriebeker-eindstryd na ‘n dramatiese gelykopstryd in bykomende tyd op Loftus
# Die Presidensie het bevestig adjunkpresident Paul Mashatile herstel nadat hy gister tydens die N’wamitwa Day-viering in Groter Tzaneen in Limpopo ineengestort het. Die premier van die provinsie Phophi Ramathuba verduidelik Mashatile het tydens sy toespraak lighoofdig gevoel weens die hitte. Die woordvoerder van die Presidensie, Keith Khoza, verseker die publiek daar is geen rede tot kommer nie:
# ‘n Nigeriese dwelmsmous is by die OR Tambo Internasionale Lughawe in hegtenis geneem met dwelms versteek in oorfone. Die inhegtenisneming het gevolg op die man se verdagte oorhandiging van lugdiensoorfone aan ‘n skoonmaker. Dit is die negende arrestasie in twee maande by die lughawe, met dwelms van meer as 13-miljoen-rand, waaronder 12-miljoen-rand se kokaiën wat in beslag geneem is. Polisiewoordvoerder Athlenda Mathe wens die lughawe se multi-dissiplinêre span geluk met hulle vinnige optrede:
# Die sake-groepering Black Entrepreneurs Alliance sê dit is nog te vroeg om te sê of die beleid van die regering van nasionale eenheid tot voordeel van swart-ondernemings sal wees. Die uitvoerende hoof Refilwe Monageng het in ‘n onderhoud met die SABC gevra vir ‘n beleidshersiening oor swartsake, en beklemtoon die behoefte aan finansiële steun en inklusiwiteit om sistemiese versperrings teen te werk. Hy herbevestig die alliansie se doel van samewerking met die regering:
# Pous Franciskus het hom skerp uitgespreek oor die dood van Palestynse kinders in militêre aanvalle deur Israel in Gaza. Franciskus het met verslaggewers gepraat en gesê bomaanvalle op skole, met die veronderstelling dat Hamas-militante getref sal word, is aaklig. Hy het twyfel uitgespreek oor die toewyding van beide Israel en Hamas, wat nou elf-maande lank in ‘n oorlog betrokke is, aan die soeke na ‘n einde aan die konflik. Die 87-jarige pous sê hy is elke dag betrokke by ontstellende telefoniese gesprekke met lede van ‘n Katolieke gemeente in Gaza.
# En, rugby: Die Haaie is in die eindstryd van die Curriebeker nadat hulle na bykomende tyd gisteraand die Bulle geklop het omdat hulle meer drieë gedruk het. Na 100 minute was die twee spanne steeds gelykop met 40-elk. Die Haaie het in ‘n stadium net 12 spelers op die veld gehad, maar het die tuisspan geskok met meer drieë wat hulle laat deurdring het na die eindstryd. In die ander halfeind op Ellispark het die Leeus die verdedigende kampioene, die Cheetahs met 43-34 ore aangesit. Die eindstryd is Saterdag op Ellispark.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….