Nuus 08:00
BULLETIN 12 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die leiers van die regering van nasionale eenheid neem bestek op
# Minister De Lille gaan die buitensporige vergaderings van die Toerismeraad ondersoek
# En nagwake word gehou vir Pravin Gordhan
# President Cyril Ramaphosa het gisteraand in Pretoria ‘n dinee vir al die leiers van politieke partye wat deel is van die regering van nasionale eenheid aangebied. Die byeenkoms het geleentheid gebied om die regering se werking te hersien, en vir leiers om hulle beoordeling te bied en kwessies wat kommer wek, te lug. Die presidensie sê Ramaphosa het na die regering van nasionale eenheid verwys as ʼn geleentheid vir politieke partye en burgerlikes om saam te werk aan ʼn groter doel om ʼn inklusiewe land vir almal te verseker.
# Die minister van Toerisme Patricia de Lille sê sy gaan ondersoek instel na die groot aantal vergaderings wat die Suid-Afrikaanse Toerismeraad gehou het, asook die koste daarvan. Byna 900-duisend-rand is bestee aan 54 raadsvergaderings wat van Maart tot die eerste week van hierdie maand gehou is. Die minister het die raad se voorsitter, Makhosazana Khanyile en haar adjunk, Lizelle Dominique-Jordaan, uit hul poste verwyder. De Lille het aan die SABC gesê hulle bly aan as gewone raadslede:
# Dit Inligtingsreguleerder het afdwingkennisgewings uitgereik teen die Verkiesingskommissie, WhatsApp en Lancet-laboratoriums vir verbrekings van die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting. Die OVK het nie voldoende maatreëls vir die beskerming van data gehad nie, WhatsApp se beskerming van privaatheid is nie konsekwent nie en Lancet het nagelaat om individue wat geraak is in kennis te stel. Die voorsitter van die Reguleerder, Pansy Tlakula, waarsku oor moontlike boetes of tronkstraf vir nie-nakoming en ondersoek klagtes teen X, Meta en Google wat met Suid-Afrika se verkiesing verband hou:
# Tennis: Die verdedigende kampioene, Italië, het Brasilië in hul eerste Groep A-wedstryd van die Davisbeker-eindronde se groepsfase in Bologna met twee-een gewen. Matteo Berrettini en Matteo Arnaldi het hul enkelspelwedstryde gewen terwyl Rafael Matos en Marcelo Melo van Brasilië die dubbels gebuit het. Spanje, wat verlede jaar die Davisbeker se uitklopfase misgeloop het, het die Tsjeggiese Republiek in Valencia met twee-nul verslaan. Amerika wat met 32 die meeste Davisbeker-titels gewen het, maar sedert 2007 ʼn titel-droogte beleef, het Chili in Zhuhai met drie-nul afgeransel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-90-sent teen die dollar, 19-rand-77-sent teen die euro en 23-rand-35-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-243-dollar-28-sent. Die prys van goud is twee-duisend-513-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 70-dollar-79-sent per vat.
# En, ten slotte: Kerslig-nagwake is gisteraand by Konstitusieheuwel in Johannesburg en die Erfenissentrum in Durban vir die gewese minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, gehou. Hy is tans in die hospitaal, maar dis nie bekend wat hy makeer nie. Hy het in Mei uit die politiek getree om op sy gesondheid te fokus. Die Ahmed Kathrada-stigting se uitvoerende direkteur, Neeshan Balton, sê alhoewel mense gemengde gevoelens het oor Gordhan se nalatenskap in die regering, is sy nalatenskap oor korrupsie onbetwisbaar:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….