Nuus 08:00
BULLETIN 11 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die NVG en die ministerie van Justisie verskil oor die Zondo-databasis
# Transnet het 51-miljard rand nodig om die spoornetwerk te herstel
# En dis Trump teen Harris in hul eerste debat
# Die nasionale direkteur van Openbare Vervolgings, Shamila Batohi, sê hulle versoek reeds vier jaar lank ongehinderde toegang tot die Zondo-kommissie se databasis in ‘n poging om staatskapingsverwante sake te vervolg. Die Nasionale Vervolgingsgesag en die Ondersoekdirektoraat is volgens berigte weens gebrekkige onderhoud onbelemmerde toegang tot die basis geweier. Die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling se direkteur-generaal, Doc Mashabane, ontken dat die NVG toegang tot belangrike staatskaping-bewyse geweier word:
# Die uitvoerende hoof van Transnet, Michelle Phillips, het die omvang van die uitdaging met die herstel van die spoornetwerk onthul en sê 51-miljard-rand is vir instandhouding nodig. Phillips het in ‘n voorlegging aan die Staande Komitee oor Openbare Rekeninge die dringendheid beklemtoon om ‘n aansienlike skuldlas en ‘n groot agterstand aan te pak. Sy sê Transnet beoog om terug te keer na 2017/18-vragvolumes, met ‘n bykomende 19-miljard-rand wat oor vyf jaar nodig is vir toekomstige volhoubaarheid.
# Die Johannesburgse Ontwikkelingsagentskap sê die inhuldiging van sy nuwe raadslede is ʼn belangrike mylpaal omdat dit sy missie voortsit om volhoubare stedelike ontwikkeling en ekonomiese groei in Johannesburg te bevorder. Julias Maputla is voorsitter van die raad met tien nie-uitvoerende direkteure. Die Stad Johannesburg se woordvoerder, Virgil James, sê die nuwe raadslede het kennis en ervaring wat sal rigting gee aan die agentskap se strategiese inisiatiewe:
# Amerika se visepresident Kamala Harris en oudpresident Donald Trump het alles van die ekonomie, 6 Januarie, die Israel/Gaza-oorlog en die wedloop in ʼn belangrike ABC News presidensiële debat bespreek. Trump het die 6 Januarie-betogers verdedig en weier om te erken hy het die 2020-verkiesing verloor. Die oudpresident het in sy slotverklaring die Biden-Harris-administrasie in sy visier gehad:
# Tennis: Die 2022-kampioene, Kanada, het met ʼn oorwinning weggespring in sy Groep D-fase van die Davisbeker-eindronde en Argentinië in Manchester, Engeland, gemaklik met twee-een verslaan. Denis Shapovalov en Felix Auger-Aliassime het hul enkelspelwedstryde gewen terwyl Argentinië se dubbelspel-meesters, Maximo Gonzalez en Andres Molteni, met 2-6, 6-3, 6-2 oor Shapovalov en Vasek Pospisil geseëvier het. In Groep C het Duitsland die span van Slowakye met drie-nul afgeransel. Die kampioene van Italië het hul titel in Bologna begin verdedig met ʼn wedstryd teen Brasilië.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-92-sent teen die dollar, 19-rand-78-sent teen die euro en 23-rand-46-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 56-duisend-766-dollar-74-sent. Die prys van goud is twee-duisend-518-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 69-dollar-54-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….