Nuus 08:00
BULLETIN 10 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Daar is ‘n beroep op die regering om die Hospitaalvereniging se voorstel vir NGV te aanvaar
# Die Parlement se Justisiekomitee sal vandag oor die Zondo-kommissie se databasis ingelig word
# En ongeveer 40 is dood in Israelse aanvalle in Gaza
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê die regering moet die Nasionale Gesondheidsversekering laat vaar en eerder die universele gesondheidsversekering oorweeg wat die Suid-Afrikaanse Hospitaalvereniging voorstel. Die vereniging se voorstel kom in breë trekke neer op verpligte gesondheidsorg-versekering vir alle werkers in die land wat in diens is. Deur dit te verplig, kan 27,5-miljoen mense uiteindelik deur mediese fondse gedek word. ‘n IRR-woordvoerder, John Endres, sê die NGV in sy huidige vorm is onbekostigbaar:
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling sal ʼn inligtingsessie bywoon oor toegang tot die Staatskapingskommissie se databasis. Volgens berigte het toegang tot belangrike staatskapingsbewyse verlore gegaan weens gebrek aan instandhouding. Dit volg nadat die Nasionale Vervolgingsgesag vir meer as twee jaar probeer het om beheer te neem oor die databasis. Dit bevat vermoedelik bewyse wat baie individue in die ANC onder verdenking plaas. Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Thembi Simelane, en die NGV sal die komitee toespreek.
# Eskom sê misdaad bly ʼn bedreiging wat nie net die betroubaarheid van voorsiening en finansiële stabiliteit raak nie, maar ook die veiligheid en welstand van sy werknemers en gemeenskappe bedreig. Drie individue is gister in die Roodepoort-landdroshof elk tot ses jaar tronkstraf gevonnis vir die gepeuter met noodsaaklike infrastruktuur en kwaadwillige saakbeskadiging. Eskom se woordvoerder in Gauteng, Amanda Qithi, sê hulle verskerp voortdurend veiligheidsmaatreëls en werk saam met wetstoepassingsagentskappe:
# Sowat 40 mense is dood en nog 60 gewond na Israelse magte ‘n humanitêre sone in Al-Mawasi, in die suide van Gaza aangeval het. Daar was meer as 200 tente vir hawelose mense. Die Israelse weermag sê hy het Hamas-terroriste geteiken wat binne ‘n bevel- en beheersentrum in die humanitêre gebied ingegrawe was. Hy voeg by hy het stappe gedoen om die gevaar vir burgerlikes sover moontlik te verminder, insluitend die gebruik van waarneming uit die lug. Hamas het die bewerings verwerp dat hy burgerlike gebiede vir militêre doeleindes aanwend.
# Sokker: Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, sê hy verwag vanmiddag ʼn taai stryd teen die gasheerspan van Suid-Soedan in die 2025 Afrikanasiesbeker-kwalifiseerwedstryd by die Juba Nasionale Stadion. Suid-Afrika se openingswedstryd teen Uganda by die Orlando-stadion in Soweto het Vrydag gelykop geëindig met twee elk. Broos sê hulle sal die foute teen Uganda moet regstel as hulle die wedstryd wil wen:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-88-sent teen die dollar, 19-rand-74-sent teen die euro en 23-rand-38-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 56-duisend-634-dollar-58-sent. Die prys van goud is twee-duisend-502-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-73-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….