Nuus 08:00
BULLETIN 6 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunk-president Mashatile sê die polisie moenie huiwer om hulself teen gewelddadige misdadigers te verdedig nie
# MTN ondersoek bewerings teen sy uitvoerende hoof, Ralph Mupita
# En Krieket: Laura Wolvaardt en Marco Jansen is bekroon as Suid-Afrika se spelers van die jaar
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê alhoewel die polisie opgelei word om te beskerm, moet hulle hulself in geweldsituasies kan verdedig. Hy het gister vrae in die Nasionale Vergadering beantwoord. Daar was veral in KwaZulu-Natal ‘n skerp toename in voorvalle waar die polisie verdagtes doodgeskiet het. Mashatile sê die regering hersien wetgewing om seker te maak die polisie word nie gekeer om in sulke situasies op te tree nie:
# Die MTN-groep sê hy ondersoek bewerings van partydigheid teen sy uitvoerende hoof, Ralph Mupita. Die Sunday Times berig talle uitvoerende hoofde dreig om te bedank oor Mupita se leierskapstyl en beskuldig hom van gebrek aan aanspreeklikheid en partydigheid teenoor ʼn vroulike hoof. Afrika se grootste selfoonnetwerk-operateur sê die raad gaan deur die nodige prosesse om die bewerings te verstaan. MTN se grootste aandeelhouer en Afrika se grootste fondsbestuurder, die Openbare Beleggingskorporasie, sê mislukkings in korporatiewe bestuur is ʼn ernstige probleem.
# Die borgtogaansoek van die Durbanse sakeman, Thoshan Panday, wat verbind word met ʼn 2010 Sokker Wêreldbeker-korrupsieskandaal, is tot Maandag uitgestel. Hy het gister in die landdroshof in Durban in KwaZulu-Natal verskyn en staan ook terselfdertyd saam met agt medebeskuldigdes in die Hooggeregshof tereg op aanklagte van rampokkery, bedrog en korrupsie. Woordvoerder van die Ondersoekdirektoraat, Henry Mamothame, sê Panday het na bewering instansies beheer wat voor die Wêreldbeker ongeveer 47-milljoen-rand van die SAPD ontvang het deur middel van korrupte transaksies.
# Die 14-jarige seun wat beskuldig word van die moord op vier mense by sy hoërskool in die Amerikaanse staat Georgia, se pa is in hegtenis geneem. Colt Gray, wat Woensdag twee leerders en twee onderwysers by Apalachee High School met ʼn aanvalsgeweer doodgeskiet het, word van die vier moorde aangekla. Die direkteur van Georgia se ondersoekburo, Chris Hosey, sê die 54-jarige Colin Gray staar vier aanklagte van strafbare manslag, twee van tweedegraadse moord en agt van wreedheid teenoor kinders in die gesig:
# Krieket: Laura Wolvaardt en Marco Jansen is by die Krieket Suid-Afrika-toekennings in Johannesburg aangewys as spelers van die jaar. Wolvaardt, die Protea-vroue se kaptein, het vyf toekennings ontvang. Dit sluit in eendagkrieket se speler van die jaar en ondersteuners se speler van die jaar. Reeza Hendricks is bekroon as die mans se T20-speler van die jaar en Quinton de Kock as eendagkrieket-speler van die jaar. Die Westelike Provinsie se kolwer, David Bedingham, is aangewys as nuweling én toetsspeler van die jaar.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-70-sent teen die dollar, 19-rand-67-sent teen die euro en 23-rand-33-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 56-duisend-752-dollar-62-sent. Die prys van goud is twee-duisend-517-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-69-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….