Nuus 08:00
BULLETIN 4 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die nasionale polisiëringsbeleid sal teen volgende maand voltooi word
# Die VF Plus sê afpersingsindikate moet genadeloos uitgeroei word
# En die VSA kla Hamas-leiers aan vir die aanval op 7 Oktober
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, het die Parlement meegedeel die nasionale polisiëringsbeleid sal teen die einde van volgende maand voltooi wees. Die beleid sal sleutelkwessies insluit soos die infrastruktuur van polisiestasies asook bedryfstandaarde, wat daarop gemik is om doeltreffendheid en diensbaarheid binne die Suid-Afrikaanse Polisiediens te verbeter. Mchunu het tydens sy toespraak by die sitting van die Nasionale Vergadering gesê die raamwerk is deel van ‘n breër strategie om die doeltreffendheid van wetstoepassing en misdaadvoorkoming oor die hele land te verbeter:
# Die Vryheidsfront Plus sê dis tyd dat die regering sonder genade optree teen afpersingsindikate, veral in die boubedryf. Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, het gister in die Parlement gesê die afpersers het nie net sakeondernemings nie, maar ook pensioenarisse en ontvangers van die Padongelukkefonds in hulle visier. ʼn VF Plus-woordvoerder, Heloïse Denner, sê afpersing-mafias het die land se ekonomie tot dusver sowat 68-miljard-rand gekos:
# Amerika het die Hamas-leier, Yahya Sinwar, en vyf ander aangekla weens hul rol in die beplanning, ondersteuning en uitvoering van die aanval verlede jaar op 7 Oktober in die suide van Israel. Een-duisend-200 mense waaronder 40 Amerikaners is in die aanval dood en 251 mense is gyselaar geneem. Meer as 40-duisend mense is tydens Israel se militêre veldtog in Gaza dood. Amerika se prokureur-generaal, Merrick Garland, sê hulle ondersoek elkeen van Hamas se grusame moorde op Amerikaners as ʼn terreurdaad:
# Motorsport: Formule Een se beheerliggaam, die FIA, het Red Bull en Ferrari se klagtes oor die wettigheid van die voorste vlerke op die McLaren- en Mercedes-motors verwerp. Volgens die klagtes is die motors se voorste vlerke weens hul buigbaarheid nie toelaatbaar nie. Die FIA sê volgens 2024 se regulasies voldoen alle voorste vlerke tans aan die vereistes. McLaren is nou agt punte agter Red Bull op die vervaardigersranglys.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-97-sent teen die dollar, 19-rand-88-sent teen die euro en 23-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 56-duisend-739-dollar-57-sent. Die prys van goud is twee-duisend-494-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-35-sent per vat.
# En ten slotte: Die DA rou na die dood van Gregory Krumbock, ʼn parlementslid en die party se nasionale veldtogbestuurder die afgelope twee verkiesings. Hy was meer as drie dekades betrokke by die party en dié se voorganger, die Demokratiese Party. Die voorsitter van die DA se federale raad, Helen Zille, sê Krumbock was ʼn visioenêre strateeg, ʼn staatmaker van die party en ʼn passievolle kampvegter vir demokrasie. Sy sê sy lewe is gekenmerk deur ʼn onversetlike najaag van geregtigheid en gelykheid.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….