Nuus 08:00
Bulletin Inhoud
BULLETIN 2 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Judges Matter sê Mandisa Maya het aansienlike uitdagings
# Die Polisiekomitee sê die moord op polisiebeamptes is ‘n aanval op die staat
# En betogings het in Israel uitgebreek oor die regering se hantering van die oorlog in Gaza
# Judges Matter sê hoofregter Mandisa Maya het ‘n sterk regstelsel geërf wat sy grondwetlike funksie sonder vrees, guns of vooroordeel kan uitvoer. Sy neem oor by Raymond Zondo wat afgetree het, en is Suid-Afrika se eerste vroulike hoofregter. Sy was vyf jaar lank president van die Appèlhof en die afgelope twee jaar Zondo se adjunk. Mbekezeli Benjamin van Judges Matter het aan die SAUK gesê die regstelsel staar steeds groot uitdagings in die gesig:
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor die Polisie sê die tempo waarteen polisiebeamptes in die land afgemaai word, is onaanvaarbaar. Altesaam 39 polisiebeamptes, drie vroue en 36 mans, het hulle lewens in die 2023/2024-boekjaar verloor. Die voorsitter van die komitee, Ian Cameron, sê die moord op beamptes is ‘n direkte aanval op die staat en misdadigers moet vervolg word. Hy doen ‘n beroep op sterker maatreëls insluitend die verwydering van onwettige vuurwapens wat in omloop is en voeg by misdadigers moet bang wees om wetstoepassingsbeamptes dood te maak.
# Gauteng se Departement van Gesondheid en Welstand moedig ouers aan om versigtig te wees na ‘n toename in gevalle van voedselvergiftiging onder kinders. Dit volg na die dood van twee sibbe nadat hulle by die huis geëet het, terwyl ander in die hospitaal opgeneem is. Die woordvoerder Motalatale Modiba sê 207 gevalle is sedert Februarie aangemeld, wat die departement genoop het om gesondheidsopvoeding in gemeenskappe te verbeter:
# Betogings het reg oor Israel uitgebreek nadat die land se weermag ses gyselaars wat volgens hulle deur Hamas vermoor is, se liggame uit Gaza teruggebring het. ʼn Geraamde 100-duisend mense het in Tel Aviv saamgedrom en 29 is gearresteer vir vandalisme, wanordelike gedrag en aanvalle op polisielede. Die betogers blameer Israel se eerste minister Benjamin Netanyahu vir sy hantering van die krisis en sê hy doen nie genoeg om ʼn gyselaar-skietstilstand-ooreenkoms te bereik nie. ʼn Amerikaans-ondersteunde gyselaars-vir-vrede-ooreenkoms word sedert Mei onderhandel.
# Gholf: Die wêreld-nommereen Scottie Scheffler het die einde van die seisoen se Tour-kampioenskap in Atlanta gewen. Die Amerikaner het op 30 onder baansyfer klaar gemaak en sy landgenoot, Collin Morikawa, met vier houe geklop ná ʼn dramatiese ronde van vier-onder 67. Scheffler het sewe oorwinnings in vanjaar se PGA-reeks, asook ʼn Olimpiese goue medalje gewen. Hy is die eerste speler sedert Tiger Woods in 2007 om sewe geleenthede in een seisoen te buit. Hy sê dit voel of hy in een jaar byna ʼn leeftyd geleef het:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-86-sent teen die dollar, 19-rand-76-sent teen die euro en 23-rand-46-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-650-dollar-17-sent. Die prys van goud is twee-duisend-494-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-25-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….