Nuus 08:00
BULLETIN 29 August 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag sal Zuma se appèl om Downer te laat verwyder teenstaan
# Die DA sê Lesufi se misdaadbekampingsplanne werk nie
# En boks: Die Parlement vra vir ‘n forensiese ondersoek na Boks SA
# Die Nasionale Vervolgingsgesag het ‘n kennisgewing van voorneme ingedien dat hy oudpresident Jacob Zuma se jongste aansoek om staatsaanklaer Billy Downer van sy wapenskandaal-saak te verwyder, gaan teenstaan. Zuma is vandag terug in die Hooggeregshof in Pietermaritzburg vir ʼn sogenaamde voorverhoor. Die proses sal waarskynlik vertraag word omdat die oudpresident se regspan weer wil probeer om Downer van die saak te verwyder. Die NVG se woordvoerder, Mthunzi Mhaga, sê Zuma se appèl het geen hoop op sukses nie:
# De Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika bevestig Eskom se aansoek oor inkomste word tans intern vir voldoening nagegaan. Dit volg na ‘n koerantartikel waarin die hoof van elektrisiteitsregulering by NERSA, Nhlanhla Gumede, beweer ‘n foutiewe interpretasie van die wet het gelei tot buitensporige elektrisiteitstariefverhogings. Die woordvoerder van NERSA, Charles Hlebela, sê Gumede se siening is persoonlik en weerspieël geensins die amptelike standpunt van die reguleerder nie:
# Die DA in Gauteng sê inwoners loop steeds deur onder ernstige misdaad ten spyte van premier Panyaza Lesufi se aangekondigde bekampingsplanne. Die Valke-hoof, Godfrey Lebeya, sê dié provinsie is volgens misdaadstatistiek vir die eerste kwartaal van die 2024/2025-boekjaar steeds Suid-Afrika se misdaad-brandpunt. ʼn DA-woordvoerder, Michael Sun, sê dit wys Lesufi se tegnologie-gedrewe misdaadbekampingsinisiatiewe soos die gebruik van hommeltuie, helikopters, paniekknoppies en kringtelevisiekameras het nie die gewenste uitwerking op misdaadbekamping nie:
# Telegram se stigter en uitvoerende hoof, Pavel Durov, word in Frankryk aangekla dat hy misdadige aktiwiteite op die boodskapplatform toelaat. Die Russies-gebore miljardêr wat ook ʼn Franse burger is, is op borgtog vrygelaat, maar mag nie Frankryk verlaat nie en moet twee keer per week by ʼn polisiekantoor aanmeld. Die 39-jarige Durov word beskuldig dat hy ʼn platform bedryf waar materiaal oor die seksuele misbruik van kinders beskikbaar is, en dat georganiseerde misdaad bendes dit gebruik vir dwelmhandel en bedrog. Durov ontken die bewerings.
# Boks: Die parlementêre portefeuljekomitee vir Sport, Kuns en Kultuur vra ʼn forensiese ondersoek na Boks Suid-Afrika se sake. Die regsgeding teen die gewese uitvoerende hoof, Moffat Qithi, kos BSA 12-miljoen-rand, wat daartoe gelei het dat dit die Suid-Afrikaanse Inkomstediens 4,5-miljoen-rand skuld. Sy begroting is ook reeds in Desember, drie maande voor die einde van die boekjaar, uitgeput. Die komitee sê die minister van Sport, Gayton McKenzie, sal binne 21 dae ʼn plan van aksie voorlê as eerste stap om BSA se situasie te verbeter.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-80-sent teen die dollar, 19-rand-83-sent teen die euro en 23-rand-52-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-66-dollar-51-sent. Die prys van goud is twee-duisend-513-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….