Nuus 08:00
BULLETIN 8 Desember 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Gungubele verwelkom aanvaarding van die Suid-Afrikaanse Poskantoor se sakereddingsplan
# Die Nasionale Minimumloonkommissie beveel ‘n verhoging aan in die minimum loon vir 2024
# En rugby, die Stad Kaapstad is gereed vir die Sewestoernooi
# Die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologie, Mondli Gungubele, het die aanvaarding van die sakereddingsplan vir die Suid-Afrikaanse Poskantoor verwelkom. Die staatsinstelling het ‘n reddingsboei van 3,8-miljard-rand nodig sodat die plan ingestel kan word en die Kabinet het in beginsel ingestem om dit te betaal. Die plan sluit in dat ses-duisend van die poskantoor se elf-duisend werknemers afgelê word. Gungubele sê die tydige aanvaarding van die plan maak dit vir die regering moontlik om die poskantoor te red.
# Die Nasionale Minimumloonkommissie beveel aan die minimum loon vir volgende jaar word met die verbruikersprysindeks plus drie-persent verhoog. Faktore wat vir die jaarlikse aanpassing oorweeg is, sluit inflasie, lewenskoste, werkgewers se vermoë om hul onderneming suksesvol voort te sit en die uitwerking op indiensneming of werkskepping in. Die kommissie se woordvoerder, Petunia Lessing, sê hulle het nog twee voorstelle en nooi belanghebbers uit om nog insette te lewer:
# Die energiereguleerder, Nersa, beveel aan dat toekomstige registrasie-aansoeke vir opwekkingsgeriewe van veranderlike energiebronne gekoppel word aan batteryberging. Dit volg op die registrasie van 98 opwekkingsaanlegte in die tweede kwartaal van die 2023/24-boekjaar, wat 908-megawatt bydra met ‘n beleggingswaarde van 17,3-miljard-rand. Fotovoltaïese sonkrag maak 71-persent van die totale vermoë uit en die top drie provinsies vir nuwe registrasies is Gauteng, die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal. Noordwes het die hoogste beleggingswaarde van 5,8-miljard-rand. Nersa het sedert 2018 een-duisend-185 opwekkingsaanlegte geregistreer.
# Die Verenigde Koninkryk se minister van Buitelandse Sake, David Cameron, maan die Republikeinse Party om Oekraïne met meer langafstandwapens te ondersteun en sê dis groot waarde vir geld. Hy is tans op ʼn werksbesoek aan Amerika. Die Amerikaanse senaat het Woensdag ʼn wetsontwerp vir ondersteuningshulp aan Oekraïne en Israel gekeer. Cameron sê dit sal Rusland verder terug dryf en president Vladimir Putin op die verdediging plaas as hy sien die Krim, wat wettig deel is van Oekraïne, is behoorlik onder aanval van Oekraïnse magte.
# Rugby: Die Stad Kaapstad sê hy is gereed vir die Kaapstad-afdeling van Wêreldrugby se Sewesreeks wat die naweek plaasvind. Sowat 50-duisend mense per dag word môre en Sondag by die Kaapstad-stadion verwag. Die Blitsbokke is in Groep A saam met Ierland, Amerika en Groot-Brittanje. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekuriteit, JP Smith, sê hulle werk saam met die toernooi-organiseerder en die polisie om alle logistieke en veiligheidsmaatreëls gereed te hê en te verseker mense het ʼn onvergeetlike ervaring:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-75-sent teen die dollar, 20-rand-24-sent teen die euro en 23-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 43-duisend-435-dollar-30-sent. Die prys van goud is twee-duisend-31-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-21-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….