Nuus 08:00
BULLETIN 27 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# RISE Mzansi verwelkom die oordrag van die aandeelhouersverantwoordelikheid van staatsondernemings
# Die EFF eis onmiddellike optrede na die verkragting van ‘n meisie by ‘n crèche
# En Dirco herhaal sy oproep vir ‘n skietstilstand in Gaza
# RISE Mzansi het president Cyril Ramaphosa se besluit verwelkom om aandeelhouer-verantwoordelikheid oor te dra aan elk van die staatdepartmente wat voorheen onder die Departement van Openbare Ondernemings geval het. Dié departement word binnekort geskrap. Eskom val nou onder die minister van Elektrisiteit en Energie, die Suid-Afrikaanse Lugdiens en SA Express onder die minister van Vervoer, en Denel onder die minister van Verdediging. RISE Mzansi se woordvoerder, Makashule Gana, sê hulle doen nou ‘n beroep dat die Wetsontwerp op Nasionale Staatsondernemings afgehandel word:
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur Dean Macpherson het onthul ongeveer 50 groot bouprojekte, wat miljarde-rand werd is, is stopgesit weens die boumafia. Macpherson het met Newzroom Afrika gepraat en gewys op die uitwerking van afpersing in die sektor, wat werk verskaf aan meer as 1,2-miljoen mense. Hy sê dit is van deurslaggewende belang vir die land se infrastruktuurontwikkeling om die greep van die mafia te verbreek:
# Die EFF sê hy beywer hom reeds lank vir ʼn nasionale register van seksoortreders waar die name en gesigte van vroue en meisies se verkragters bekendgemaak word. Dit volg nadat ʼn tweejarige meisie na bewering verlede week by Emma’s Crèche in Sherwood, Durban, verkrag is. Die party eis dat die verdagte gearresteer en die crèche deeglik ondersoek word. Die EFF sê hy gaan nie toelaat dat kinders verkrag word terwyl mense wat hulle moet beskerm, nie omgee vir hulle pyn nie.
# Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking het sy ondersteuning aan die Internasionale Strafhof herbevestig en sê dis om aanspreeklikheid in die Midde-Ooste te verseker. Die strafhof se hoofaanklaer, Karim Khan, doen ʼn beroep op regters om dringend te beslis oor sy versoek dat lasbriewe vir inhegtenisneming uitgereik word vir Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, die minister van Verdediging Yoav Gallant, en drie Hamas-leiers. Die departement se woordvoerder, Chrispin Phiri, sê Suid-Afrika vra steeds ʼn skietstilstand in Gaza:
# Tennis: Die verdedigende kampioen, Coco Gauff, is deur na die tweede ronde van die Amerikaanse Ope nadat sy Varvara Gracheva van Frankryk met 6-2, 6-0 afgeransel het. Die Amerikaner kom nou teen die Duitser, Tatjana Maria, te staan. Die Olimpiese gouemedaljewenner van China, Zheng Qinwen, was ʼn stel agter, maar het die Amerikaanse promotorskeuse, Amanda Anisimova, uiteindelik met 4-6, 6-4, 6-2 verslaan. In die mansafdeling het Ben Shelton van Amerika die voormalige kampioen, Dominic Thiem, met 6-4, 6-2, 6-2 verpletter. Die 30-jarige Oostenryker beplan om later vanjaar uit te tree.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-71-sent teen die dollar, 19-rand-78-sent teen die euro en 23-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-832-dollar-71-sent. Die prys van goud is twee-duisend-507-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-21-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….