Nuus 08:00
BULLETIN 26 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Malema beklemtoon die belangrikheid van swart eenheid
# OUTA ondersteun die amnestietydperk vir regsfirmas
# En ‘n Britse veiligheidsadviseur vir Reuters word in Oekraïne gedood
# EFF-leier Julius Malema sê sy partylede en ondersteuners moenie ontsteld wees oor die gewese adjunkleier, Floyd Shivambu, se skielike vertrek om by Jacob Zuma se MK-party aan te sluit nie. Malema het in Newcastle, KwaZulu-Natal, ‘n hou na Zuma gewaag wat ná Shivambu se aanstelling as die MK-party se nasionale organiseerder, gevra het dat progressiewe magte moet verenig. Malema sê swart eenheid is belangrik, maar nie onder ʼn ou man soos Zuma nie:
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê hy ondersteun die Gesondheidsminister, Aaron Motsoaledi, se amnestietydperk waartydens prokureurs vals mediese eise sonder vrees vir vervolging kan terugtrek. Die Spesiale Ondersoekeenheid het bevind ʼn enkele regsfirma het oor vyf jaar 44 verdagte mediese regseise van 497-miljoen-rand teen die Oos-Kaapse Departement van Gesondheid ingedien. Outa se uitvoerende hoof, Wayne Duvenhage, sê hulle ondersteun die amnestie van twee weke omdat dit die proses om die bedrogsake te hanteer, bespoedig.
# Die Oos-Kaapse premier, Oscar Mabuyane, het met ‘n strategiese besoek aan China begin wat tot Vrydag duur. Hy lei ‘n hoëvlak-afvaardiging van amptenare en sakeleiers na die provinsies Heilongjiang en Zhejiang. Die provinsiale regering se woordvoerder, Khuselwa Rantjie, sê die belangrike besoek het ten doel om ekonomiese diplomasie te versterk en die Oos-Kaap te posisioneer as ‘n vooraanstaande bestemming vir wêreldwye handel, belegging en toerisme:
# ʼn Britse veiligheidsraadgewer vir die Reuters-nuusagentskap is dood en twee joernaliste beseer toe ʼn Russiese missiel ʼn hotel in Kramatorsk in die ooste van Oekraïne getref het. Die oudsoldaat, Ryan Evans, is dood toe die missiel die Hotel Sapphire getref waar hy as deel van ʼn span van ses gebly het. Reuters sê hy soek dringend meer inligting oor die aanval en sal saam met owerhede in Kramatorsk werk. President Volodymyr Zelensky van Oekraïne sê sulke Russiese terreuraanvalle gebeur daagliks.
# Gholf: Die Nieu-Seelander Lydia Ko het die Britse Ope vir Vroue by Sint Andrews met twee houe gewen en spog met haar eerste Major-sege in agt jaar. Die 27-jarige Ko wat die Olimpiese goue medalje in Parys gebuit het, het die laaste ronde met ʼn agterstand van drie houe begin, maar ingehaal en met drie-onder 69 haar derde major gewen. Die verdedigende kampioen van Amerika, Lilia Vu, haar landgenoot Nelly Korda, Jiyai Shin van Suid-Korea en Ruoning Yin van China deel die tweede plek. Ko sê die oorwinning voel onwerklik:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-71-sent teen die dollar, 19-rand-82-sent teen die euro en 23-rand-41-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-140-dollar-67-sent. Die prys van goud is twee-duisend-511-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-47-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….