Nuus 08:00
BULLETIN 25 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Motsoaledi sê sy departement word hard geslaan met bedrieglike mediese regs-eise
# ‘n Verdagte in die dodelike mesaanval in Duitsland is aangekeer
# En, rugby: Die Leeus en die Haaie bou steeds Curriebeker-momentum
# Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, sê sy departement staar bedrog met mediese-regs-eise oral in die land in die gesig. Motsoaledi het die media ingelig oor die Spesiale Ondersoekeenheid se bevindings oor mediese regs-eise. Hy sê die SOE het in 2017 met sy werk begin deur die provinsies met die grootste aandeel in die eise te teiken. Teen daardie tyd het die Oos-Kaap se voorwaardelike aanspreeklikheid ten opsigte van eise op 15,9-mijard-rand gestaan, terwyl die syfer vir Gauteng 21,2-miljard-rand was:
# Die DA in die Wes-Kaap het die hervatting van regstreekse perde-uitvoere na die Europese mark verwelkom. Noko Masipa van die DA sê die direkte uitvoer van perde na Europa is sedert 2010 verbied weens kommer oor Afrika-perdesiekte. Hy sê die Europese Unie is tevrede met die versekering en waarborge wat deur die sektor en die provinsiale regering verskaf word met betrekking tot beheer- en risikoverminderingsmaatreëls:
# Die Instituut vir Sekerheidstudies beklemtoon die energie-oorgang in Afrika moet gebalanseer word met versagting van koolstofvrystelling. Senior navorser, Alize le Roux, het tydens ‘n webinaar gewys op die noodsaak van die vasteland se keuses met lae vrystelling, te midde van ‘n groterwordende koolstofvoetspoor. Le Roux stel gas voor as oorgangsbrandstof terwyl gewerk word aan oplossings met energie. Sy beklemtoon ook die behoefte aan aansienlike befondsing om steun te bied aan die unieke energie- en ontwikkelingsuitdagings van Afrika.
# Die Duitse polisie het na ‘n intensiewe soektog ‘n man aangekeer wat vermoedelik drie mense doodgesteek en nog agt ander Vrydag gewond het in ‘n mes-aanval in die westerse stad Solingen. Die minister van Binnelandse Sake in die Noord-Rhein-Westfale-staat, Herbert Reul, het nie enige besonderhede verskaf nie, maar die Duitse media berig die verdagte, in vuil, bloedbesmeerde klere, het homself oorgegee. ‘n Ses-en-vyftigjarige vrou en twee mans, van 56 en 67, is dood na die lukrake aanval by ‘n fees. Agt mense is gewond, vier ernstig. Die kanselier Olaf Scholtz, het die tragedie as ‘verskriklik’ beskryf.
# En, rugby: Die Leeus het hulle kanse vir ‘n Curriebeker-halfeindstryd op hulle tuisveld versterk met ‘n bonuspuntoorwinning van 38-21 teen die verdedigende kampioene, die Cheetahs, in Bloemfontein. Die Leeus het ses drieë gedruk en is nou tweede op die punteleer. Die Haaie het in Kaapstad ook momentum opgebou met hulle sege van 31-23 teen die Westelike Provinsie. Die besoekers het vyf punte met die oorwinning verdien. Die Bulle, wat nog steeds onoorwonne is, het die Griekwas Vrydagaand op Loftus met 47-24 afgeransel en nog ‘n bonuspunt verdien. Vanmiddag verwelkom die Griffons die Pumas in Welkom.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….