Nuus 08:00
BULLETIN 19 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa beklemtoon die belangrikheid om die ANC se provinsiale strukture te versterk
# Die ekonomie slaag nie daarin om vinnig genoeg werk te skep nie
# En motorsport: Bagnaia wen die Oostenrykse MotoGP en neem weer die voortou in die kampioenskap
# Die ANC se president Cyril Ramaphosa sê die party moet sy provinsiale strukture versterk om sy regeringsvermoë te verbeter. Die nasionale werkkomitee wat die ANC se dag tot dag bedrywighede hanteer, het gister sy beraadslagingsproses na die Mei-verkiesing in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal, begin. Die party het sy meerderheid in die provinsie verloor en net meer as 17-persent van die stemme gekry. Ramaphosa sê hulle verhoog die totale vlak van aktivisme op takvlak:
# Die ekonoom Maphefo Sipula sê Suid-Afrika se ekonomie sukkel om werksgeleenthede te skep, met bykans 8,4-miljoen mense wat tans werkloos is. Sipula het aan die SABC gesê die hoë koers onder jongmense is ‘n bron van kommer. Sy het gesê hulp aan kleinsake-ondernemings is ‘n kritieke oplossing vir werkskepping en ekonomiese herstel:
# Die kruisondervraging van die afgetrede selfoondata-ontleder, Lambertus Steyn, in die Senzo Meyiwa-moordverhoor hervat vandag in die Hooggeregshof in Pretoria. Hy moet weer bewyse verduidelik oor beweerde kommunikasie tussen een van die beskuldigdes, Fisokuhle Ntuli, en Meyiwa se destydse vriendin, die sanger Kelly Khumalo. Ntuli en vier ander word beskuldig van die moord op die Bafana Bafana-kaptein in 2014. Steyn moet weer verskyn nadat Pinky Vythilingam van Vodacom nie die twee oproepe waaroor hy getuig het, kon verifieer nie.
# Amerika se minister van Buitelandse Sake, Antony Blinken, is in Israel as deel van Washington se hernude pogings om ‘n skietstilstand te bewerkstellig in die konflik van tien maande in Gaza. ʼn Nuwe skietstilstandplan wat Amerika, Katar en Egipte opgestel het, is verlede Vrydag voorgelê ná twee dae van beraadslaging in Doha. Bemiddelaars het hul pogings verskerp te midde van vrese dat Iran sal wraak neem na die sluipmoord op ʼn Hamas-leier in Teheran. Amerikaanse amptenare sê hulle is optimisties dat ʼn skietstilstand-ooreenkoms bereik sal word.
# Motorsport: Die verdedigende kampioen, Francesco Bagnaia, het ʼn derde agtereenvolgende Oostenrykse Grand Prix gewen en loop weer voor op die MotoGP-punteleer. Die Italianer het Saterdag die snelwedren gewen en gister in die hoofresies koning gekraai om met vyf punte voor te loop in die kampioenskap. Die Spanjaard Jorge Martín, wat die naweek boaan die punteleer afgeskop het, is tweede en die Italianer Enea Bastianini derde. Die Suid-Afrikaner Brad Binder is vyfde. Bagnaia sê hy het alles goed gedoen:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-81-sent teen die dollar, 19-rand-67-sent teen die euro en 23-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 55-duisend-586-dollar-77-sent. Die prys van goud is twee-duisend-502-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-53-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….