Nuus 08:00
BULLETIN 7 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering sê onwettige mynbou is ‘n bedreiging vir nasionale sekerheid
# Donald Trump sê daar is ‘n goeie kans dat hy binnekot met Putin sal vergader
# En krieket: Wiaan Mulder is benoem vir die Internasionale Krieketraad se Manspeler vir Juliemaand
# Die regering sê onwettige mynbedrywighede is ‘n misdaad wat nasionale sekerheid en openbare veiligheid bedreig. Minstens 550 vermeende onwettige myners, insluitend buitelanders en minderjariges, is die afgelope paar dae by die Sheba-goudmyn in Barberton, Mpumalanga, gearresteer. Die regeringswoordvoerder, Nonkululeko Matshali, sê hulle verwelkom die voortgesette inhegtenisneming van onwettige myners en moedig landsburgers aan om die stryd teen onwettige mynbedrywighede te steun:
# Die parlementêre komitee oor Handel, Nywerheid en Mededinging sê hy is weens die sterk handels- en beleggingsverhouding tussen Suid-Afrika en Amerika, bekommerd oor die uitwerking van die 30-persent Amerikaanse tariewe. Sowat agt-persent van Suid-Afrikaanse goedere wat in 2024 wêreldwyd uitgevoer is, was na Amerika. Die komitee sê hy is bekommerd oor die uitwerking van die tariewe, veral op voertuie, staal en landbouprodukte, omdat dié produkte minder mededingend sal wees in Amerika.
# Die Vryheidsfront Plus verwelkom die skorsing van twee amptenare van die Gautengse Departement van Gemeenskapsveiligheid weens beweerde korrupsie. Premier Panyaza Lesufi het die departementshoof, Nontsikelelo Sisulu, en finansiële hoof, Mduduzi Malope, geskors na ʼn ondersoek by die departement waartydens finansiële onreëlmatighede gevind is. Jaco Mulder van die VF Plus sê dis bemoedigend dat daar uiteindelik opgetree word teen amptenare wat van vermeende korrupsie beskuldig word:
# President Donald Trump van Amerika sê daar is ʼn goeie vooruitsig dat hy reeds teen volgende week persoonlik met president Vladimir Putin van Rusland sal vergader. Dit volg na ʼn ontmoeting gister in Moskou tussen Putin en die Amerikaanse gesant, Steve Witkoff. Trump waarsku dat Rusland streng sanksies, of sekondêre sanksies teen diegene wat met hom handeldryf, kan verwag as hy nie stappe doen om die oorlog te beëindig nie. Hy sê hierdie oorlog tussen Rusland en Oekraïne moet ophou:
# Krieket: Die veelsydige Protea-speler Wiaan Mulder is saam met Ben Stokes van Engeland en Shubman Gill van Indië benoem as die Internasionale Krieketraad se Speler van die Maand vir Julie. Mulder het ʼn onoorwonne 367 gemoker in die tweede toets teen Zimbabwe, wat die hoogste individuele telling in Suid-Afrika se toetsgeskiedenis is. Stokes het in Julie 251 lopies behaal en 12 paaltjies platgetrek in drie toetse van die Engeland-Indië-reeks. Gill het ʼn groot rol gespeel in Indië se rekord-sege teen Engeland by Edgbaston waar hy in die eerste beurt 269 bygedra het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-77-sent teen die dollar, 20-rand-72-sent teen die euro en 23-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-521-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-377-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-27-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….