Nuus 08:00
BULLETIN 16 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Floyd Shivambu se skuif na die MK-party kan moontlik met die VBS-skandaal verbind word
# Dit is vandag 12 jaar sedert die Marikana-slagting
# En Swede bevestig sy eerste geval van a-pokke
# Professor André Duvenhage glo die EFF se gewese adjunkpresident, Floyd Shivambu, se besluit om die party te verlaat en by MK aan te sluit, is deur iets belangrik veroorsaak. Shivambu se vertrek kom slegs maande nadat die EFF in die Mei-verkiesing as derde grootste party in die land onttroon is. Duvenhage het aan Newzroom Afrika gesê Shivambu soek moontlik beskerming in die lig van bewerings teen hom wat met die VBS-skandaal verband hou:
# Dis vandag 12 jaar sedert die Marikana-slagting in Noordwes plaasgevind het waar 44 mense, insluitend 34 stakende mynwerkers, dood is. Meer as 90 is gewond en meer as 200 is gearresteer ná botsings met die polisie. Die mynwerkers het betoog vir meer geld en beter werksomstandighede in ‘n gevaarlike bedryf waar werkers uitgebuit kan word. Volgens die Prokureur-generaal se kantoor het die staat sowat 71-miljoen-rand opsy gesit om die 34 gesinne te ondersteun. Van die 315 eisers het 129 egter niks ontvang nie.
# Gauteng se premier Panyaza Lesufi sê die stryd teen misdaad is hulle belangrikste prioriteit en enige vorm van wetteloosheid sal uitgeroei word. Hy het gisteraand sy provinsiale rede onder die regering van provinsiale eenheid in Katlehong, Ekurhuleni, gelewer. Een-duisend-787 mense is tussen Oktober en Desember verlede jaar in Gauteng vermoor wat ʼn styging van 3,8-persent is. Lesufi sê hulle sal voortgaan om maatreëls te verskerp om misdaad te bekamp:
# Swede het sy eerste geval van a-pokke bevestig wat ook die eerste geval buite Afrika is. Dit volg nadat die Wêreldgesondheidsorganisasie a-pokke die tweede keer in twee jaar as wêreldwye gesondheidsnoodgeval verklaar het. Die persoon van Swede het besmet geraak tydens ʼn besoek aan ʼn gebied in Afrika waar ʼn groot uitbreking van die virus voorkom. Meer as 14-duisend a-pokke-gevalle en 524 sterftes is vanjaar in meer as 12 Afrika-lande aangemeld, wat meer is as verlede jaar.
# Tennis: Die verdedigende kampioen en tweede gekeurde Coco Gauff is uit die Cincinnati Ope na sy in drie stelle teen Yulia Putintseva van Kazakhstan, 34ste op die wêreldranglys, verloor het. Putintseva het die Amerikaner met 6-4, 2-6, 6-4 verslaan. Daar was ook oorwinnings vir Paula Badosa van Spanje en die Amerikaner Taylor Townsend. In die mansafdeling het die Duitser Alexander Zverev die eerste speler geword om 50 oorwinnings op ATP-toervlak die seisoen te behaal toe hy die Rus Karen Khachanov met 6-3, 6-2 oorweldig het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-97-sent teen die dollar, 19-rand-74-sent teen die euro en 23-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-938-dollar-27-sent. Die prys van goud is twee-duisend-453-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 80-dollar-79-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….