Nuus 08:00
BULLETIN 15 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum is gereed om Eskom se appèl oor diesel- en steenkoolkontrakte teen te staan
# Troepe van Oekraïne gaan voort met hul inval in Russiese grondgebied
# En netbal: Die Proteas het ‘n nuwe kaptein
# AfriForum sê hy is gereed om Eskom weer in die hof te sien oor die aansoek om inligting te bekom oor die kragvoorsiener se bestaande steenkool- en dieselkontrakte. Die Hooggeregshof in Johannesburg het Eskom verlof toegestaan om te appelleer teen ‘n hofbeslissing in Maart wat hom opdrag gee om binne tien dae inligting oor die kontrakte aan die burgerlike organisasie te oorhandig. Charné Mostert van AfriForum sê Eskom het nou ʼn maand tyd om ʼn kennisgewing van appèl by die Appèlhof in te dien:
# Die EFF se studente-bevelstruktuur wil hê openbare onderhoude moet met alle kandidate vir die raad van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente gevoer word. Die raad is in April deur die voormalige minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovering, Blade Nzimande, ontbind. Dit was na die raadsvoorsitter, Ernest Khoza tydelik op verlof geplaas is, hangende ‘n ondersoek na bewerings van korrupsie van miljoene rande. Die skema is toe onder administrasie geplaas. Die EFF sê hy het in die verlede ‘n twyfelagtige en onetiese kultuur opgemerk by die aanstelling van indiwidue as raadslede op ‘n privaat en ondeursigtige wyse.
# Die Stad Tshwane sê hy het tot op hede goeie vordering gemaak in verskeie afdelings van die Rooiwal-watersuiweringsaanleg se opgraderingsprojek. Die doel is om Hammanskraal se waterprobleme op te los. Die burgemeesterskomiteelid vir Nutsdienste, Streeksoperasies en Samewerking, Themba Fosi, sê hulle verwag oor die volgende drie maande vordering met die oprigting van twee basiese besink-tenke en die opknapping van die oostelike vloei-balanseringstenk en pompstasie:
# Oekraïnse hommeltuie het Russiese lugmagbasisse in Voronezh, Kursk, Savasleyka en Borisoglebsk aangeval waar vliegtuie opstyg om sweefbomme op Oekraïne te gooi. Oekraïnse soldate beweeg dieper in Rusland se Kursk-streek in en 100 soldate is gevange geneem. Die inval is in sy tweede week en Oekraïne het die verste op Russiese grondgebied inbeweeg sedert Moskou in 2022 met sy volskaalse oorlog begin het. President Volodymyr Zelensky van Oekraïne sê sy land verdedig homself en die lewens van sy mense in grensgemeenskappe, terwyl hy aktiewe stappe doen op Russiese grondgebied.
# Netbal: Khanyisa Chawane is die Proteas se nuwe kaptein en Karla Pretorius is onderkaptein. Chawane neem die leierskap oor by Bongi Msomi, wat verlede jaar ná die Wêreldbeker uitgetree het nadat sy die span sedert 2016 gelei het. Netbal Suid-Afrika sê Chawane is ʼn ervare speler wat goeie ondervinding en vaardighede na haar nuwe rol bring. Die Proteas het gister met ʼn kamp begin om vir die nuwe seisoen voor te berei. Chawane sê sy is opgewonde oor die nuwe uitdaging:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-6-sent teen die dollar, 19-rand-88-sent teen die euro en 23-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-438-dollar-25-sent. Die prys van goud is twee-duisend-452-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-93-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….