Nuus 08:00
BULLETIN 12 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ace Magashule sê die staat behandel sy voormalige persoonlike assistent soos ‘n terroris
# Minister Mchunu bekommerd oor die ontdekking van militêre opleidingstoerusting in Limpopo
# En, 17 mense is dood na ‘n grondstorting by ‘n stortingsterrein in die Ugandese hoofstad
# Die gewese ANC-sekretaris-generaal, Ace Magashule, sê sy voormalige persoonlike assistent, Moroadi Cholota, word soos ‘n terroris behandel. Sy is Donderdag uit Amerika gedeporteer. Die staat beweer Cholota was betrokke by die asbes-korrupsiesaak van 255-miljoen-rand omdat sy na bewering namens Magashule geld by sakelui gevra het. Sy verskyn na verwagting vandag in die Bloemfontein-landdroshof. Magashule het aan eNCA gesê hy is onskuldig:
# Die Minister van Polisie Senzo Mchunu sê burgers se veiligheid en sekuriteit is van die grootste belang. Dit volg na die ontdekking van ʼn vermeende vuurwapen-opleidingsentrum in Modimolle, Limpopo. ʼn Multidissiplinêre span het talle gelisensieerde gewere, ʼn pistool en ammunisie gevind wat vermoedelik in opleidingsaktiwiteite by die fasiliteit gebruik word. Die ministerie se woordvoerder, Kamogelo Mogotsi, sê die ontdekking van militêr-verwante opleidings-toerusting wek kommer wat nie geïgnoreer kan word nie:
# Die president van ActionSA, Herman Mashaba, sê hy gaan aan die Departement van Binnelandse Sake skryf en vra immigrasiebeamptes moet dringend in Temba, Hammanskraal, ontplooi word. Dit volg nadat die party tydens ‘n toesigbesoek in Temba ontdek het beweerde onwettige buitelanders woon daar en bedryf openlik sakeondernemings. Volgens Mashaba het hulle binne twee straatblokke 23 woonhuise geïnspekteer wat in spaza-winkels, restaurante en groothandelaars van vervalste goedere omskep is:
# Die dodetal na ʼn grondstorting by ʼn groot stortingsterrein in Uganda se hoofstad Kampala het tot 17 gestyg terwyl 14 gered is. Die Kiteezi-stortingsterrein is die enigste in die hele Kampala met sy sowat vier-miljoen inwoners. Die inwoners kla lank reeds oor gevaarlike afval wat die omgewing besoedel. President Yoweri Museveni het opdrag gegee dat ondersoek ingestel word waarom mense toegelaat is om so naby die potensieel gevaarlike gebied te woon.
# Olimpiese Spele: VSA Gimnastiek het by die Hof vir Bemiddeling in Sport appèl aangeteken nadat Jordan Chiles van haar bronsmedalje gestroop is wat sy by die vroue se vloer-finaal in Parys gewen het. Dit volg nadat die hof in ʼn appèl deur Ana Barbosu van Roemenië se guns beslis het. Die hof sê Amerika se aanvanklike navraag oor Chiles se telling in die finaal is ná die een-minuut-spertyd ingedien. Die beheerliggaam sê hulle het video-bewyse wat toon die appèl is 13 sekondes voor die spertyd ingedien.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-30-sent teen die dollar, 19-rand-98-sent teen die euro en 23-rand-35-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-617-dollar-3-sent. Die prys van goud is twee-duisend-427-dollar-2-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-73-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….