Nuus 08:00
BULLETIN 8 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Binnelandse Sake vind prima facie bewyse van bedrog deur ‘n Mej SA deelnemer se ma
# Die ouditeur-generaal kritiseer die gebrek aan aanspreeklikheid in munisipaliteite
# En Taylor Swift se konserte in Wene word gekanselleer oor ‘n beweerde beplande terreuraanval
# Die Departement van Binnelandse Sake sê hy het prima facie bewys gevind dat die Mejuffrou Suid-Afrika-deelnemer, Chidimma Adetshina, se ma moontlik bedrog en identiteit-diefstal gepleeg het. Die departement vermoed haar ma het ‘n Suid-Afrikaanse vrou se identiteit gesteel toe sy haar geboorte geregistreer het. Adetshina se deelname het teenstand gekry toe dit aan die lig kom haar pa is ʼn Nigeriër en haar ma van Mosambiek. Minister Leon Schreiber sê die ondersoek na die saak gaan voort:
# Die ouditeur-generaal Tskanni Maluleke, het burgemeesters en speakers gekritiseer oor hulle misluk het om munisipaliteite na verantwoordbare en deursigtige instellings te transformeer. Sy het vroeër die jaar haar kommer uitgespreek oor die wesenlike onreëlmatighede in munisipaliteite wat 5,2-miljard-rand beloop. Sy het by ‘n twee-daagse gesamentlike sitting van burgemeesters en speakers in Polokwane gepraat. Maluleke sê munisipaliteite moet nog institusionele vermoëns opbou om hulle grondwetlike mandate na te kom. Sy sê die professionalisering van plaaslike owerhede sal in ‘n groot mate help.
# Sewe verdagtes verskyn na verwagting vandag in die Brits- en Rustenburg-landdroshof vir die beweerde diefstal van edelmetale ter waarde van 350-miljoen-rand. Die gesteelde platinum sou in Rustenburg en Brits verkoop word. Die Valke se woordvoerder, Tinyiko Mathebula, sê die verdagtes sal aangekla word van onwettige besit van en handel in edelmetale:
# Taylor Swift se Eras-toervertonings in Wene is afgestel nadat twee mense gearresteer is in verband met planne vir ʼn moontlike aanval in die Oostenrykse hoofstad. Een van die verdagtes is ʼn 19-jarige wat in Julie trou gesweer het aan die Islamitiese Staat. Beamptes sê die twee verdagtes het tasbare voorbereiding vir ʼn terroriste-aanval getref en op Swift se konserte gefokus. Minstens 65-duisend mense per dag sou na verwagting die drie konserte in die Ernst Happel-stadion bywoon, met 22-duisend wat buite die stadion saam luister.
# Tennis: Die viermalige kampioen Rafael Nadal het aan die Amerikaanse Ope onttrek en sê hy sal nie alles kan gee by Flushing Meadows in New York nie. Die 38-jarige Spanjaard het nie enige spesifieke besering of gesondheidstoestand bevestig nie. Nadal het by die Olimpiese Spele in Parys deelgeneem en in die tweede ronde van die mans-enkelspel teen Novak Djokovic verloor. Hy het saam met Carlos Alcaraz die kwarteindronde van die mans-dubbelspel gehaal. Hy sê hy beplan om steeds volgende maand aan die Laver-beker in Berlyn deel te neem.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-36-sent teen die dollar, 20-rand-8-sent teen die euro en 23-rand-31-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-288-dollar-8-sent. Die prys van goud is twee-duisend-391-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-56-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….