Nuus 08:00
BULLETIN 7 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê hulle sal vinniger beweeg om die ANC te vernuwe
# TLU SA sê hy is bemoedig deur die minister van Landbou se visie vir die sektor
# En Kamala Harris beskryf haar verkiesingsvennoot as ‘n kampvegter vir die middelklas
# Die ANC-president Cyril Ramaphosa sê die nasionale uitvoerende komitee se lekgotla het bevestig die party moet die beweging onmiddellik en met meer energie vernuwe. Hy het gister die driedaagse NUK-lekgotla wat by die Birchwood Hotel in Boksburg gehou is, afgesluit. Ramaphosa sê hulle moet beginselvaste, hervormende en bevrydende aktivisme en politiek bevorder:
# Die landbou-unie, TLU SA, sê hy is bemoedig deur die minister van Landbou, John Steenhuisen, se visie vir die sektor. Die minister het Dinsdag met die unie en ander organisasies vergader om die grootste uitdagings in die landboubedryf te bespreek. Steenhuisen het vier belangrike kwessies waaraan hy voorkeur gee, uitgelig. Dit sluit befondsing vir boere en bio-sekerheid vir diere en plante in. TLU SA se hoofbestuurder, Bennie van Zyl, sê enige verantwoordelike regering sal die landbousektor koester:
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Christen-forum distansieer homself van die optrede van Mboro Motsoeneng, en sê hulle kan nie sulke gedrag deur enige godsdienstige leier goedpraat nie. Dit volg nadat Mboro, gewapen met pangas en gewere, twee minderjarige kinders met geweld uit die Laerskool Matsediso in Katlehong, Ekurhuleni verwyder het. Hulle vra vir ‘n onafhanklike reguleringsliggaam vir kerke om sulke wangedrag aan te spreek en verwerp ook die afbrand van Motsoeneng se kerk in Katlehong. Die leier van die forum, Marori Mashashane, versoek streng maatreëls teen sulke gewelddadige gedrag.
# Amerika se visepresident en die Demokrate se presidentskandidaat, Kamala Harris, sê Tim Walz is ‘n patriot en vegter vir die middelklas. Sy het die goewerneur van Minnesota by ʼn saamtrek in Philadelphia as haar visepresidentskandidaat bekendgestel. Harris is gister amptelik as die Demokrate se presidentskandidaat benoem en is die eerste vrou van kleur in die posisie. Sy sê Walz is die soort visepresident wat Amerika verdien:
# Olimpiese Spele: Die Algeriër Imane Khelif het Janjaem Suwannapheng van Thailand na ʼn eenparige besluit in die halfeindronde van die vroue se weltergewig-boksitem geklop. Sy is een van twee boksers wat by die Spele meeding, al het die Internasionale Boksvereniging hulle by verlede jaar se Wêreldkampioenskap gediskwalifiseer omdat hulle nie ʼn geslagstoets kon slaag nie. Khelif en Liu Yang van China sal sake vir die goue medalje uitspook wanneer sy probeer om Algerië se eerste goue medalje in boks te wen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-42-sent teen die dollar, 20-rand-11-sent teen die euro en 23-rand-41-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 56-duisend-633-dollar-87-sent. Die prys van goud is twee-duisend-386-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-47-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….